Luister na my, Here
1 Vir die koorleier: Met fluitspel.
’n Dawidspsalm.
2 O Here,
luister tog na my gebed;
gee aandag
aan my versugting.
3 Luister tog
na my geroep om hulp,
my Koning en my God,
want dis tot U dat ek bid.
4 Here,
in die oggend
sal U my stem hoor.
Soggens bring ek my versoeke
vol verwagting na U toe.
5 O God,
U verdra geen boosheid nie;
en sonde
vind by U geen tuiste nie.
6 Verwaandes
kan nie voor U kom nie;
U haat almal
wat kwaad bewerk.
7 U vernietig hulle
wat leuens vertel.
Die Here verafsku
moordenaars en bedrieërs.
8 Maar ek kan u huis binnegaan
op grond van u troue liefde;
in u heilige tempel
sal ek met ontsag aanbid.
9 Leer my tog wat reg is, Here,
vanweë my vyande,
en u pad,
maak dit voor my reguit.
10 Hulle praat nie
die waarheid nie,
en begeer ander se vernietiging.
Hulle keel is ’n ope graf,
hulle tong is pure vleiery.
11 O God, verklaar hulle skuldig.
Laat hulle gevang word
deur hulle eie planne.
Jaag hulle weg
oor hulle baie sondes,
want hulle is opstandig
teen U.
12 Laat almal wat by U skuil,
bly wees,
laat hulle altyd juig.
Beskerm dié
wat u Naam liefhet
sodat hulle oor U
kan jubel.
13 Want U seën die vromes, Here,
u genade beskerm hulle
soos ’n skild.