Die grootheid van die Here
1 Jubel, regverdiges, oor die Here!
Dit pas opregtes
om Hom te loof.
2 Prys die Here met die lier;
met musiek
op die tiensnareharp.
3 Sing vir Hom ’n nuwe lied,
speel met vaardigheid
en jubel.
4 Want die woord van die Here
is waarheid,
en alles wat Hy doen,
staan vas.
5 Hy het regverdigheid en reg lief,
en sy troue liefde
vul die aarde.
6 Deur die woord van die Here
is die hemele geskape;
en deur sy woord
al die hemelliggame.
7 Hy stel grense vir die see,
in die diepwaters
versamel Hy hulle.
8 Laat elkeen op die aarde
die Here dien.
Laat die inwoners van die wêreld
ontsag hê vir Hom.
9 Want Hy het gepraat,
en dit was daar;
Hy het beveel, en dit was so.
10 Die Here verydel
die beraadslaging
van die nasies
en dwarsboom die planne
van mense.
11 Maar die Here se planne
staan vir altyd vas;
sy beplanning geld
vir geslag na geslag.
12 Geseënd is die nasie
wie se God die Here is,
die volk wat Hy
vir Homself as sy eiendom
gekies het.
13 Die Here kyk vanuit die hemel
en sien die hele mensdom.
14 Vanaf sy woning
sien Hy al die bewoners op die aarde.
15 Omdat Hy hulle harte
gemaak het,
verstaan Hy alles wat hulle doen.
16 ’n Koning word nie gered
deur ’n groot leër nie,
ook nie ’n krygsman
deur groot krag nie.
17 Dis valse hoop dat
’n oorlogsperd
veiligheid verseker,
en deur groot krag
redding bring.
18 Maar die Here waak
oor dié wat Hom dien,
oor hulle wat hoop
op sy troue liefde
19 om hulle te red van die dood
en hulle in hongersnood
aan die lewe te hou.
20 Ons vertrou op die Here
om ons te red.
Hy is ons hulp en beskerm ons
soos ’n skild.
21 In Hom is ons harte verheug,
want ons vertrou
op sy heilige Naam.
22 Laat u troue liefde ons oordek,
Here,
want ons hoop op U alleen.