God is my redding
1 ’n Dawidspsalm toe hy voor
sy seun Absalom gevlug het.
2 O Here,
ek het so baie vyande;
so baie kom teen my in opstand.
3 So baie sê:
“God sal hom nooit red nie!”
Sela
4 Maar U, Here,
is ’n skild rondom my.
U herstel my eer,
U lig my kop weer op.
5 Ek het tot die Here geroep.
Vanaf sy heilige berg
het Hy my geantwoord.
Sela
6 Ek het gaan lê en slaap
en weer wakker geword,
want die Here
het oor my waggehou.
7 Ek is nie bang
vir tienduisende mense
wat my van alle kante
bedreig nie.
Sela
8 Staan op, Here!
Bevry my tog, my God!
U het al my vyande
op die kakebeen geslaan,
die tande van die goddeloses
het U gebreek!
9 Verlossing kom van U, Here.
Mag u seëninge op u volk rus.
Sela