PSALMS 29

Die stem van die Here

1 ’n Dawidspsalm.

Vereer die Here,

julle hemelwesens!

Vereer die Here

vir sy grootheid en krag!

2 Verheerlik die Here

oor die heerlikheid

van sy Naam!

Dien die Here

in die grootsheid

van sy heiligheid.

3 Die stem van die Here

weerklink oor die waters.

Die God van heerlikheid donder.

Die Here

is op die magtige waters.

4 Die stem van die Here

is magtig.

Die stem van die Here

is vol majesteit.

5 Die stem van die Here

breek seders.

Die Here versplinter

die seders van die Libanon.

6 Hy laat die Libanon bokspring

soos ’n kalf

en die Sirjon soos ’n jong bees.

7 Die stem van die Here

tref met weerligstrale.

8 Die stem van die Here

laat die woestyn bewe.

Die Here

laat die Kadeswoestyn bewe.

9 Die stem van die Here

laat die ooie lam

en stroop die bosse kaal.

In sy tempel sê almal:

“Heerlikheid!”

10 Die Here regeer

oor die watervloed.

Die Here heers

as koning vir altyd.

11 Die Here gee krag

aan sy volk.

Die Here seën sy volk

met vrede.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

sixteen − three =