Wie mag voor die Here
verskyn?
1 ’n Dawidspsalm.
Die aarde behoort
aan die Here,
met alles wat daarop is,
die wêreld
en alles wat daarop lewe.
2 Die fondamente van die aarde
het Hy in die oseane gelê,
en dit op die riviere gevestig.
3 Wie mag opklim
teen die berg van die Here?
Wie mag staan
in sy heilige plek?
4 Net hulle
wie se dade onskuldig,
wie se denke
sonder bybedoeling is;
wat nie bedrog pleeg nie
en nie ’n eed valslik aflê nie.
5 So ’n persoon
sal die seën van die Here ontvang
en God sy redder
sal aan hom reg laat geskied.
6 Só lyk die mense wat Hom dien
en die God van Jakob aanbid.
Sela
7 Word hoër, o poorte!
Word nog hoër,
eeue oue deure,
sodat die roemryke Koning
kan ingaan.
8 Wie is die roemryke Koning?
Die Here, sterk en magtig,
die Here,
onoorwinlik in die stryd.
9 Gaan oop, o poorte!
Gaan oop, eeue oue deure,
sodat die roemryke Koning
kan ingaan.
10 Wie is die roemryke Koning?
Die Here, die Almagtige,
Hý is die roemryke Koning.
Sela