PSALMS 21

Die Here seën die koning

1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.

2 Die koning is bly oor u mag,

Here,

vol vreugde oor u verlossing.

3 U het hom

sy hartsbegeerte gegee;

niks wat hy gevra het,

het U geweier nie.

Sela

4 U gaan hom tegemoet

met seëninge van voorspoed.

Op sy kop sit U ’n kroon

van suiwer goud.

5 Lewe het hy van U gevra,

en U het dit gegee –

’n lang lewe wat steeds voortduur.

6 U oorwinning

besorg hom groot eer;

met glans en majesteit

het U hom beklee.

7 U het hom bekroon

met seëninge vir altyd,

en hom gegee

die blydskap van u nabyheid.

8 Want die koning

vertrou op die Here.

Die trou van die Allerhoogste

sal hom

van struikeling bewaar.

9 U hand

sal al u vyande tref.

U sterke hand

sal al u haters vernietig.

10 U sal hulle vernietig

soos in ’n oond

die oomblik wanneer U verskyn.

Die Here sal hulle

in sy toorn verslind,

soos vuur sal Hy hulle verteer.

11 U sal hulle kinders

van die aarde af uitwis,

hulle nageslag

uit die mensheid verwyder.

12 Al sou hulle teen U

in opstand kom,

hulle bose planne

sal nie slaag nie.

13 Want U sal hulle laat omdraai en vlug

wanneer U pyle op hulle rig.

14 Verhef U in u mag, Here.

Ons wil U prys

en oor u grootheid sing.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

two × 5 =