’n Roepstem in nood
1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2 Mag die Here, in tye van nood,
antwoord op jou roepstem.
Mag die Naam
van die God van Jakob
jou beveilig teen gevaar.
3 Mag Hy jou te hulp snel
uit die heiligdom,
en uit Sion jou versterk.
4 Mag Hy dink
aan al jou graanoffers,
en jou brandoffers gunstig aanvaar.
Sela
5 Mag Hy jou hartsbegeertes
vervul,
en al jou planne verwesenlik.
6 Mag ons juig oor u oorwinning,
en baniere hys
in die Naam van ons God.
Mag die Here
al jou gebede verhoor.
7 Nou weet ek: die Here red
sy gesalfde koning.
Vanuit sy heilige hemel
verhoor Hy hom
en red hom deur sy groot mag.
8 Sommige volke vertrou
op strydwaens en perde,
maar ons vertrou
op die Naam van die Here
ons God.
9 Daardie volke sal val
en ineenstort,
maar ons sal opstaan
en regop staan.
10 Gee tog oorwinning
aan ons koning, Here!
Mag die Here antwoord
wanneer ons na Hom roep.