PSALMS 2

Dien die Here en sy gesalfde

1 Hoekom gaan die nasies

so tekere,

en bedink die volke

nuttelose planne?

2 Die konings van die aarde

het saamgesweer;

die heersers span saam

teen die Here

en sy gesalfde.

3 Hulle sê:

“Laat ons hulle kettings

stukkend breek,

onsself bevry

van hulle slawebande.”

4 Maar Hy

wat vanuit die hemel heers,

lag oor hulle.

Die Here spot met hulle.

5 In sy toorn

praat Hy met hulle,

en in sy woede verskrik Hy hulle:

6 “Ek het hom op Sion,

my heilige berg,

as my koning aangestel.”

7 Ek wil vertel

van die Here se besluit.

Hy het vir my gesê:

“Jy is my seun.

Vandag het Ek

jou Pa geword.

8 Vra My, en Ek gee vir jou

nasies as erfporsie,

die einde van die aarde

as jou besitting.

9 Met ’n ysterstaf

sal jy hulle stukkend slaan,

soos ’n kleipot hulle verpletter.”

10 Wees nou verstandig,

o konings!

Wees gewaarsku,

regeerders van die aarde!

11 Dien die Here met eerbied

en juig oor Hom met bewing.

12 Onderwerp julle aan God

sodat Hy nie toornig word

en jy op die pad omkom nie.

Want sy toorn ontvlam gou,

maar daar is vreugde

vir almal wat by Hom skuil.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

five × 2 =