Die heerlikheid van God
1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2 Die hemele verkondig
die heerlikheid van God.
Die uitspansel getuig
van die werk van sy hande.
3 Die een dag vertel
vir die ander dag;
die een nag vir die volgende nag.
4 Hulle praat sonder woord of klank,
geluidloos is hulle stem;
5 hulle boodskap gaan uit
oor die hele wêreld,
hulle woorde
tot die uiterste van die aarde.
Die son se woonplek is in die hemel,
waar God dit geplaas het.
6 Soos ’n bruidegom
verskyn hy uit sy kamer,
soos ’n held op die baan,
ywerig om weg te spring.
7 Aan die een kant van die horison
kom hy op
en aan die ander kant
gaan hy onder.
Niks kan sy hitte ontkom nie.
8 Die Here se voorskrifte is volkome,
dit gee nuwe lewenskrag.
Die bepalings van die Here
is betroubaar;
dit maak die eenvoudige
verstandig.
9 Die Here se bevele is reg,
dit bring vreugde vir die hart.
Die opdragte van die Here
is duidelik;
dit gee insig vir die lewe.
10 Die gebooie van die Here
is suiwer,
dit bly vir altyd staan.
Die Here se voorskrifte is reg;
elkeen van hulle is regverdig.
11 Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as die fynste goud.
Hulle is soeter as heuning,
as druppels
uit ’n heuningkoek.
12 Dis ’n waarskuwing
vir u dienaar,
en ’n groot beloning
vir dié wat dit gehoorsaam.
13 Wie kan sy eie oortredings
verstaan?
Spreek my vry
oor verborge sondes,
14 en bewaar my
van opsetlike sondes!
Laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek vry wees van skuld,
en onskuldig
aan groot oortredings.
15 Mag die woorde van my mond
en die gedagtes van my hart
vir U aanneemlik wees,
Here, my rots
en my Verlosser.