Wie mag voor God
verskyn?
1 ’n Dawidspsalm.
Here, wie mag dit waag om
in u teenwoordigheid te kom?
Wie mag woon
op u heilige berg?
2 Hy wat onberispelik lewe
en doen wat reg is,
met ’n opregte hart
die waarheid praat;
3 wat nie sy medemens belaster,
hom benadeel,
of van hom kwaadpraat nie;
4 wat dié wat aanhou sondig,
verfoei,
húlle eer wat die Here dien,
en beloftes gestand doen
selfs tot sy nadeel;
5 wat nie geld op rente
uitleen nie,
en nie omkoopgeld
teen onskuldiges aanvaar nie.
’n Mens wat so optree,
sal vir altyd stewig staan.