Vertrou op die Here
1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2 Hoe lank sal U my bly vergeet,
Here?
Vir altyd?
Hoe lank nog sal U
anderpad kyk?
3 Hoe lank
moet ek alleen planne maak,
elke dag deurbring
met droefheid in my hart?
Hoe lank sal my vyand
die oorhand hê?
4 Kyk tog en antwoord my,
Here my God!
Verlig tog weer my oë
dat ek nie
die doodslaap ingaan nie,
5 anders sê my vyand:
“Ek het hom oorwin!”
en is my teenstander bly
oor my ondergang.
6 Maar ek maak self staat
op u troue liefde.
Ek wil juig
omdat U my gered het.
Ek wil sing tot eer van die Here
omdat Hy vir my goed was.