PSALMS 12

God sal reg laat geskied

1 Vir die koorleier: Met basstem.

’n Dawidspsalm.

2 Help tog, Here,

want opregtes

bestaan nie meer nie!

Onder die mensekinders

is daar geen getroues oor nie.

3 Bure lieg vir mekaar.

Hulle praat

met vleiende lippe,

maar met bedrieglike harte.

4 Die Here

sny hulle vleiende lippe af

en ook hulle grootpraterige tong.

5 Hulle sê:

“Ons sal lieg

soveel soos ons wil.

Ons lippe behoort aan ons.

Wie kan ons keer?”

6 Die Here antwoord:

“Ek het die geweld

teen hulpeloses gesien,

en Ek het die versugting

van die armes gehoor.

Daarom sal Ek hulle beveilig,

die veiligheid bied

waarna hulle smag.”

7 Die Here se beloftes is suiwer,

soos silwer

in ’n oond gesuiwer,

wat sewe keer gesuiwer is.

8 U, Here, hou oor ons wag.

U sal ons vir altyd

teen sulke mense bewaar,

9 selfs al loop die goddeloses

oral rond

om boosheid

onder mense te saai.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

3 × five =