Oordeel tog die goddeloses!
1 Here,
waarom staan U so ver weg?
Hoekom verberg U Uself
in tye van nood?
2 Bose mense vol verwaandheid
vervolg die ellendiges.
Laat hulle gevang word
in die planne
wat hulle vir ander bedink.
3 Want die goddelose spog
met sy bose begeertes;
hy seën die inhaliges
en vervloek die Here.
4 Hierdie bose mens is te trots
om God te soek.
In al sy beplannings
is daar geen plek vir God nie.
5 Hy is suksesvol
in alles wat hy doen.
U oordele is vir hom buite sig.
Minagtend lag hy
oor al sy vyande.
6 Hy sê vir homself:
“Geen onheil
sal my ooit tref nie!
Geslag na geslag
sal ek vry wees van rampe!”
7 Sy mond is vol vervloeking,
leuens en geweld,
onheil en boosheid is op sy tong.
8 Hy lê in ’n hinderlaag
by die dorpe
om mense in die geheim
te vermoor,
hy bly op die uitkyk
na onskuldige slagoffers.
9 Hy lê doodstil in ’n hinderlaag
soos ’n leeu in sy lêplek,
hy wag in die hinderlaag
om hulpeloses aan te val.
Hy vang die ellendiges
en trek hulle met sy net.
10 Die hulpelose is oorrompel
en stort ineen;
hy val onder die aanslag
van die kwaadwilliges.
11 Hy wat kwaad doen,
sê vir homself:
“God het vergeet,
Hy kyk tog nie
en sal dit nooit raaksien nie!”
12 Staan op, Here!
Tree op teen die goddeloses,
o God!
Moenie die hulpeloses
vergeet nie!
13 Hoekom verag die goddelose
vir God
en sê by homself:
“Hy sal tog nie
rekenskap eis nie”?
14 Maar U sien die moeilikheid
en leed
wat hulle veroorsaak,
ja, U, U sien dit raak
en tree teen hulle op.
Die hulpeloses vertrou op U,
die beskermer
van die weeskind.
15 Breek die greep
van die goddelose,
dié wat kwaad bewerk!
Roep hom tot verantwoording
oor sy bose dade
totdat U hom nie meer vind nie.
16 Die Here is koning vir altyd!
Die nasies is uit sy land
verdryf.
17 Here, U hoor die smeking
van die hulpeloses.
U sal hulle gerusstel
en hulle gebede verhoor.
18 U spreek reg oor wese
en verdruktes
sodat mense
hulle nie meer verskrik nie.