1 Bileam het vir Balak gesê: “Bou vir my sewe altare op hierdie plek. Jy moet sewe bulle en sewe ramme voorberei om te offer.
2 Balak het gemaak soos Bileam gevra het. Hy en Bileam het ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer.
3 Bileam sê toe vir Balak: “Bly hier staan by die offers wat jy gebring het. Laat ek gaan kyk of die Here my nie miskien wil ontmoet nie. Ek sal vir jou kom sê wat Hy my laat sien het en aan my geopenbaar het.”
Bileam het toe op ’n kaal koppie geklim.
4 God het Bileam daar ontmoet. Hy het vir God gesê: “Ek het sewe altare gebou en op elkeen ’n bul en ’n ram geoffer.”
5 Die Here het toe vir Bileam gesê wat hy vir Balak moet sê. Hy het gesê: “Gaan terug na Balak toe en gee vir hom hierdie boodskap.”
6 Toe hy by Balak terugkom, het die koning en al die amptenare van Moab by die brandoffers gestaan.
7 Hy het die boodskap oorgedra:
“Van Aram af het Balak
my laat kom.
Die koning van Moab
het my laat kom
vanaf die berge in die ooste.
Hy het gesê: Kom!
Kom vervloek Jakob vir my!
Kom kondig
Israel se ondergang aan!
8 Hoe kan ek hulle vervloek
vir wie God
nie vervloek het nie?
Hoe kan ek ondergang voorspel
vir hulle vir wie die Here
dit nie gedoen het nie?
9 Ek sien hulle
van bo van die kranse af.
Bo van die heuwels af
hou ek hulle dop.
Ek sien ’n volk wat op hulle eie is,
wat by die nasies
nie getel word nie.
10 Wie kan Jakob
se nageslag tel?
Wie kan selfs ’n kwart van Israel tel?
Mag ek as ’n regverdige sterf.
Mag my dae soos hulle s’n eindig.”
11 Balak vra toe vir Bileam: “Wat maak jy met my? Ek het jou gebring om my vyand te vervloek, maar jy staan en seën hulle!”
12 Bileam het geantwoord: “Ek kan net dit sê wat God my meegedeel het.”
Bileam se tweede uitspraak
vanaf Pisgaberg
13 Balak sê toe vir hom: “Kom saam met my na ’n ander plek toe. Jy sal van daar af ’n deel van die Israeliete kan sien. Vervloek hulle vir my van daar af.”
14 Hy het hom na die top van die Pisgaberg in die vlakte van Sofim toe gevat. Daar het hy sewe altare gebou. Op elkeen het hy ’n bul en ’n ram geoffer.
15 Bileam sê toe vir Balak: “Staan net so hier by jou brandoffers. Ek sal die Here daar anderkant ontmoet.”
16 Die Here het Bileam ontmoet. Hy het vir hom nog ’n boodskap gegee. Hy het vir hom gesê: “Gaan terug na Balak en gee vir hom hierdie boodskap.”
17 Hy is toe terug na Balak toe. Hy het saam met sy amptenare by sy brandoffer gestaan. “Wat sê die Here?” het Balak vir hom gevra.
18 Hy het toe die boodskap gebring:
“Staan op, Balak! Luister!
Hoor mooi wat ek vir jou sê,
seun van Sippor!
19 God is nie ’n mens
dat Hy sal lieg nie.
Hy is nie ’n mens
wat ‘ekskuus’ sal sê nie.
Het Hy al ooit iets gesê
wat Hy nie gedoen het nie?
Het Hy iets belowe
wat Hy nie nagekom het nie?
20 Ek het die opdrag gekry
om te seën.
Hy het geseën
en ek kan dit nie omdraai nie.
21 Hy het vir Jakob
nie teëspoed in gedagte nie.
Hy het nie moeilikheid
in die vooruitsig vir Israel nie.
Die Here sy God is by hulle.
Hy is koning oor hulle.
22 Hy het hulle uit Egipte bevry.
Hy is vir Israel
soos die brute krag
van ’n bees.
23 Geen voorspelling
kan iets doen aan Jakob nie.
Geen waarsêery het
krag teen Israel nie.
Van Jakob sal gesê word:
‘Watter wonderlike dinge
het God vir Israel gedoen.’
24 Die volk staan op en rek hom uit
soos ’n leeu.
Hy gaan nie lê
voor hy sy prooi
opgevreet het nie,
voor hy die bloed gedrink het
van die een
wat hy gevang het nie.”
Bileam se derde uitspraak vanaf
Peorberg
25 Balak sê toe vir Bileam: “As jy hulle nie gaan vervloek nie, mag jy hulle ook nie seën nie!”
26 Bileam het Balak geantwoord: “Het ek dan nie vir jou gesê dat ek alles moet doen wat die Here vir my sê nie?”
27 Balak sê vir Bileam: “Kom laat ek jou na nog ’n ander plek toe vat. Miskien is dit reg vir God om hulle van daar af te vervloek.”
28 Balak het Bileam toe na die piek van Peorberg gevat wat oor die woestyn uitkyk.
29 Bileam het weer vir Balak gesê: “Bou vir my hier sewe altare. Jy moet sewe bulle en sewe ramme voorberei om daarop te offer.”
30 Hy het gemaak soos Bileam vir hom gesê het. Hy het die beeste en ramme op die altare geoffer.