JOB 9

Job praat ’n derde keer in

antwoord op Bildad

1 Job het weer gepraat:

2 “Ja, ek weet,

dis alles in beginsel waar.

Hoe kan ’n mens onskuldig wees

in die oë van God?

3 As iemand met God

na die gereg wil gaan,

sou hy Hom een keer

uit duisend

kon antwoord?

4 God is so wys en so magtig.

Wie sal ooit Hom kan teenstaan

en ’n saak teen Hom wen?

5 Sonder waarskuwing

verskuif Hy berge,

keer Hy hulle om in sy woede.

6 Hy skud die aarde uit sy plek,

en sy fondamente bewe.

7 Op sy bevel

sal die son nie opkom

en die sterre nie skyn nie.

8 Hy alleen sprei die hemele uit,

Hy wandel

op die golwe van die see.

9 Hy maak al die sterre:

die Beer, Orion, Sewester

en al die sterrebeelde

in die suidelike hemelruim.

10 Sy groot werke is te wonderlik

om te verstaan.

Hy bewerk ontelbare wonders.

11 Wanneer Hy by my kom,

sien ek Hom nie.

Ek sien Hom nie

wanneer Hy verbygaan nie.

12 As Hy deur die dood

iemand wegvat,

wie kan Hom keer?

Wie sal dit waag om te sê:

‘Wat doen U nou?’

13 God hou sy toorn nie terug nie,

Hy vernietig die helpers van

die groot seemonster.

14 “Wie is ek dan

om God te antwoord

of met Hom te redeneer?

15 Selfs al was ek onskuldig,

ek het geen verweer nie.

Ek kan maar net

by my Regter om genade pleit.

16 Selfs al sou ek Hom dagvaar

en Hy daag op,

glo ek nie Hy sal na my luister nie.

17 Want Hy val my aan

sonder rede,*

en sonder oorsaak

verwond Hy my.

18 Hy gee my geen kans

om asem te skep nie

en versadig my

met bitter lyding.

19 Hy is die sterk Een.

As dit oor krag gaan,

as dit oor regspraak gaan,

wie kan Hom ooit uitdaag?

20 Selfs al is ek onskuldig,

my eie mond

sal my veroordeel.

Selfs al is ek reg,

dit sal net wys

hoe verkeerd ek is.

21 “Al is ek onskuldig,

dit maak geen verskil nie.

Ek verag my lewe.

22 Of ek skuldig of onskuldig is,

dit is alles dieselfde.

Ek sê jou mos:

Hy vernietig die onskuldige

én dié wat kwaad doen.

23 Hy lag wanneer ’n plaag

die onskuldige skielik doodmaak.

24 Die hele aarde is in die hande

van die kwaaddoener

en God verblind die oë

van die regters

sodat hulle onreg pleeg.

As dit nie Hy is nie, wie anders?

25 “My lewe gaan vinniger verby

as ’n naelloper.

Dit vlieg verby,

sonder dat ek geluk ervaar.

26 Dit verdwyn

soos ’n vinnige rietbootjie,

soos ’n arend wat afswiep

op sy prooi.

27 As ek sou dink:

ek gaan ophou kla,

my treurigheid laat vaar,

en vrolik wees,

28 dan vrees ek steeds al my pyn,

want ek weet

U beskou my as skuldig, o God.

29 Wat ook al gebeur,

ek is reeds skuldig bevind.

Hoekom dan nog probeer?

30 Al was ek myself met seep

en my hande met wassoda,

31 gooi U my weer

in ’n modderpoel.

Ek is so vuil

dat my eie klere my haat.

32 “God is nie ’n mens soos ek nie.

Ek kan nie met Hom redeneer

of Hom voor ’n hof bring nie.

33 As daar net iemand was

om tussen ons te bemiddel

en ons bymekaar te bring!

34 Die middelaar sou dan keer

dat God

aanhou om my te slaan.

Ek sou nie langer in vrees lewe

vir sy straf nie.

35 Dan sou ek met Hom

kon praat

sonder om bang te wees.

Maar in my eie krag

kan ek dit nie doen nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

19 + 12 =