Die Here daag Job uit
1 Toe het die Here
Job uit ’n stormwind
geantwoord:
2 “Wie is dit
wat my wysheid bevraagteken
met woorde van onkunde?
3 Staal jouself!
Ek sal die vrae stel,
en dan antwoord jy My.
4 “Waar was jy
toe Ek die fondasie
van die aarde gelê het?
Sê My as jy so baie weet!
5 Wie het die aarde opgemeet?
Jy weet tog seker!
En wie het die maatband
oor die aarde gespan?
6 Waarop rus die fondasie
van die aarde?
En wie het sy hoeksteen gelê?
7 Toe het al die môresterre
saamgesing
en die hemelse wesens*
het van vreugde gejuig.
8 “Wie het die grense van die see
vasgestel
toe dit uitgeborrel het
9 en Ek dit bedek het met wolke
en dik duisternis?
10 Ek het grense vir hom gestel.
Ek het hom
agter slot en grendel gesit.
11 Ek het gesê:
‘Jy mag tot hier kom,
en nie verder nie.
Hier moet jou trotse golwe breek.’
12 “Het jy ooit die môre beveel
om te verskyn?
Het jy die dag laat breek
in die ooste?
13 Het jy al die lig opdrag gegee
om oor die aarde te sprei
sodat die nag se boosheid
kan ophou?
14 Die aarde neem vorm aan
soos die lig toeneem.
Dit neem vorm aan
soos voue in ’n kledingstuk.
15 Die lig versteur die rooftog
van die kwaaddoener.
Hulle kan nie meer die arm lig
om geweld te pleeg nie.
16 “Was jy al by die fonteine
waar die see ontspring?
Het jy al daar rondgeloop
en sy dieptes verken?
17 Weet jy waar die ingang
van die doderyk is,
waar die donkerte skuil?
18 Begryp jy hoe groot
die aarde is?
Sê My as jy dit alles weet.
19 “Waar kom die lig vandaan?
En waarheen wyk
die donkerte?
20 Kan jy hulle terugvat
na hulle huis toe?
Weet jy hoe om daar uit te kom?
21 Natuurlik weet jy dit alles!
Jy is mos gebore
voor dit alles geskep is.
Jy het nou al soveel ervaring!
22 “Was jy al by die skatkamers
van die sneeu?
Het jy al gesien waar die hael
gebêre word?
23 Ek gaar dit op
vir ’n tyd van rampe,
vir die dag van stryd en oorlog.
24 Waar is die pad
na die oorsprong van lig?
Waar is die tuiste
van die oostewind?
25 Wie grawe ’n kanaal
vir die stortreën?
Wie maak ’n pad
vir die weerlig?
26 Wie giet reën
oor die droë grond,
in ’n woestyn
waar niemand woon nie?
27 Wie stuur die reën
wat die droë land natmaak
sodat groen gras uitspruit?
28 Het die reën ’n vader?
Waar kom dou vandaan?
29 Wie is die moeder van ys?
Wie gee geboorte aan ryp
uit die lug?
30 Dan word water so hard
soos ’n rots,
en die watervlak verys.
31 “Kan jy die Sewester vasknoop?
Of die bande van Orion losmaak?
32 Kan jy sorg dat die sterre
op die regte tyd opkom?
Kan jy die Beer met sy kleintjies
laat uitkom?
33 Ken jy die wette
van die natuur?
Weet jy hoe God
oor die aarde regeer?
34 “Kan jy met die wolke praat
sodat hulle begin reën?
35 Kan jy weerligstrale maak,
en dit laat tref soos jy wil?
36 Wie gee intuïsie en instink
aan die mens?
37 Wie is slim genoeg
om die wolke te tel?
Wie kan die waterkanne
van die hemel omkeer
38 wanneer die grond droog is
en die kluite kliphard?”