1 “As ek hieraan dink,
bons en bewe my hart in my.
2 Luister na God se stem
in die donderweer
as dit voortrol van Hom af.
3 Dit rol deur die ganse hemel.
Sy weerlig slaan
in alle rigtings.
4 Dan kom die gebrul
van die donderweer,
die geweldige stem
van sy majesteit.
Hy hou nie die weerlig terug
wanneer Hy praat nie.
5 God se stem is glorieryk
in die donderweer.
Dis onmoontlik
om sy grootheid en mag
te bedink.
6 Hy laat die sneeu
val op die aarde,
en beveel die reën
om neer te stort.
7 Almal hou dan op om te werk
sodat hulle sy krag
kan aanskou.
8 Die wilde diere
skuil tussen rotse
of bly in hulle lêplekke.
9 Die storm kom uit sy blyplek.
Die wind bring groot koue.
10 Die asem van God
stuur die ys.
Die wye waters vries kliphard.
11 Hy laai die wolke met vog.
Hy verlig die wolke
met sy weerlig.
12 Die wolke draai en draai
soos Hy hulle beveel.
Hulle doen wat Hy beveel
oor die hele bewoonde aarde.
13 Hy laat dinge gebeur op aarde
as straf of as teken
van sy troue liefde.
14 “Luister hierna, Job.
Staan stil en bedink
die wonderdade van God.
15 Weet jy hoe God
die storm beheer
en sy weerlig laat flits
uit sy wolke?
16 Verstaan jy hoe die wolke
in die lug bly hang?
Dis die wonderlike werk
van Hom wat alles weet.
17 As jy vergaan van die hitte
in jou klere,
wanneer die suidewind gaan lê
en alles stil word,
18 weerkaats Hy die hitte
uit die hemelruim
soos ’n reuse spieël.
Kan jy dit doen?
19 “Jy dink mos jy weet so baie.
Leer ons
wat ons vir God moet sê.
Ons is te onkundig
om self te redeneer.
20 Moet ons vir Hom sê dat ons
met Hom wil praat?
Kan ons praat
as ons so deurmekaar is?
21 Ons kan nie in die son kyk
op ’n wolklose dag nie.
Dit skyn helder in die lug
wanneer al die wolke
weggewaai het.
22 Uit die noorde kom God
in goudglans.
Rondom Hom is
ontsagwekkende majesteit.
23 Ons kan ons nie voorstel
hoe magtig God is nie.
Tog is Hy so regverdig
en vol genade
dat Hy ons nie verdruk nie.
24 Geen wonder dat alle mense
Hom vrees nie.
Mense met ware wysheid
het ontsag vir Hom.”