JOB 36

1 Elihu het ook nog gesê:

2 “Laat my voortgaan,

en ek sal die waarheid

vir jou uitwys

in wat ek sê,

want ek is nog nie klaar

om God te verdedig nie!

3 Ek het baie voorbeelde

van die regverdigheid

van my Maker

wat ek aan jou kan voorhou.

4 “Wat ek gaan sê,

is die eerlike waarheid,

want ek is ’n man

met afgeronde kennis.

5 God is magtig,

tog verag Hy niemand nie!

Hy is magtig in sowel krag

as begrip.

6 Hy laat die kwaaddoener

nie lewe nie,

maar sorg vir regverdigheid

vir die verdrukte.

7 Sy oë is altyd

op die onskuldige,

Hy vestig en verhef hulle

vir altyd

saam met konings.

8 Maar as hulle moeilikheid het

en swaar verdruk word,

9 doen Hy moeite

om vir hulle die rede uit te wys,

naamlik hulle sonde

van hoogmoed.

10 So kry Hy hulle aandag

en sê vir hulle

dat hulle moet wegdraai

van die kwaad.

11 As hulle luister

en Hom gehoorsaam,

word hulle geseën

met voorspoed

deur hulle hele lewe.

12 Maar as hulle weier

om te luister,

sal hulle sterf in die geveg

en ondergaan

omdat hulle niks verstaan nie.

13 “Goddelose mense vertroetel

hulle woede.

Selfs wanneer Hy hulle straf,

weier hulle om te roep

om hulp.

14 Hulle sterf jonk.

Hulle lewe eindig

in skandelike dade.

15 Maar deur hulle swaarkry,

red Hy mense wat ly.

Want Hy gebruik hulle lyding

om hulle oë oop te maak.

16 “Ja, ook vir jou wou God

uit die gevaar lei.

Hy wou jou vrymaak.

Hy wou jou oorgenoeg gee

om van te lewe.

17 Maar jy is behep

met die oordeel

oor die goddelose.

Moenie bekommerd wees nie.

Regverdigheid sal seëvier.

18 Oppas dat voorspoed

jou nie verlei nie.

Moenie dat ’n groot

omkoopgeskenk

jou laat sondig nie.

19 Kan al jou geld en moeite

jou help in jou ellende?

20 Moenie wens

dat die nag kom nie.

Dis juis dan

dat mense vernietig word.

21 Wees waaksaam!

Draai weg van die kwaad!

God het juis swaarkry

oor jou gestuur

om jou weg te vat van sonde.”

Elihu herinner Job aan God se

mag

22 “God is almagtig.

Wie kan ’n mens leer

soos Hy?

23 Niemand kan Hom vertel

wat om te doen nie.

Niemand kan vir Hom sê:

‘U was verkeerd’ nie.

24 Nee, verheerlik liewer

sy magtige werke

en sing tot sy lof.

25 Elkeen het hierdie dinge

gesien,

maar net van ver af.

26 Kyk, God is verhewe

bokant ons begrip.

Sy jare is sonder einde.

27 “Hy trek waterdamp op

en laat dit val as reën.

28 Reën stort uit die wolke

en almal baat daarby.

29 Kan iemand verstaan

hoe die wolke uitsprei,

en die donderweer

rol deur die hemel?

30 Kyk hoe Hy die weerlig

rondom Hom laat blits.

Kyk hoe dit die diepsee verlig.

31 Deur sy magtige dade

regeer Hy oor die mense,

Hy sorg vir hulle met oorvloed.

32 Hy vul sy hande met weerlig

en gooi hulle af op sy teiken.

33 Die donderweer verkondig

sy teenwoordigheid.

Die storm kondig sy woede aan.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

three × 1 =