Job: Ek is onskuldig
1 Job het die gesprek voortgesit:
2 “So seker as wat God leef,
Hy wat my regte
van my weggeneem het,
die Almagtige
wat my verbitter het,
3 solank ek leef,
solank God my laat asemhaal,
4 sal ek niks verkeerds sê nie.
Ek sal nie leuens
vertel nie.
5 Daarom kan ek nooit erken
dat julle reg is nie.
Tot ek sterf,
sal ek my onskuld verdedig.
6 Ek hou vol dat ek onskuldig is.
My gewete is skoon
solank ek leef.
7 “Mag my vyande gestraf word
soos die kwaaddoeners,
my teenstander
soos bose mense.
8 Want watter hoop
het die goddelose mens
wanneer God hom afsny
en sy lewe wegneem?
9 Sal God luister na hom
wanneer ’n ramp hom tref?
10 Kan hy hom verlustig
in die Almagtige?
Kan hy enige tyd na God roep?
11 “Laat ek julle iets vertel
oor God se mag.
Ek sal niks verswyg
oor die Almagtige nie.
12 Maar dis ook nie nodig nie,
want julle het alles self gesien.
Tog hou julle aan
om hierdie nuttelose goed
vir my te sê.
13 “Dit is wat die kwaaddoeners
van God gaan ontvang,
dit is hulle erfdeel
van die Almagtige.
14 Al hulle baie kinders
sal sterf in die oorlog
of doodgaan van honger.
15 Dié wat oorleef,
sal deur die pes
na hulle graf toe gaan.
Niemand sal oor hulle treur nie,
nie eens hulle vroue nie.
16 Bose mense
besit dalk al die geld
in die wêreld
en kan berge van klere opgaar,
17 maar die regverdige
sal die klere dra,
en die onskuldiges
sal die geld
tussen hulle verdeel.
18 Die huise van bose mense
is broos soos ’n spinnerak,
so wankelrig
soos ’n skuiling van takke.
19 Die kwaaddoener gaan slaap
in rykdom,
maar sal dit nie behou nie.
Hy ontwaak in armoede.
20 Angs oorweldig hulle
soos ’n vloed
en die storm waai hulle weg
in die nag.
21 Die oostewind
waai hulle ver weg,
en hulle is nie meer nie.
22 Sonder genade
kom die wind op hulle af.
Hulle probeer wegkom
van die storm se geweld.
23 Almal is bly
oor hulle ondergang
en spot met hulle.”