Sofar antwoord Job ’n tweede
keer
1 Sofar die Naämatiet
het Job geantwoord:
2 “Ek kan nie anders,
ek moet antwoord,
want ek is baie ontsteld.
3 Ek luister nou al lank
na jou beledigings!
Nou moet ek jou antwoord.
4 “Jy moet besef dat dit nog altyd so
was:
Vandat die mens op aarde is,
5 was die gejuig
van die kwaaddoener
van korte duur en die vreugde
van die goddelose
net tydelik.
6 Al reik die trots van ’n goddelose
tot in die hemel
en al is sy kop in die wolke,
7 tog vergaan hy vir altyd,
weggegooi
soos sy eie uitwerpsel.
Dié wat hom geken het,
sal vra: ‘Waar is hy?’
8 Hy sal vervaag soos ’n droom.
Jy kan hom nêrens kry nie.
Hy verdwyn soos ’n visioen
in die nag.
9 Die wat hom eens op ’n tyd
gesien het,
sal hom nooit weer sien nie.
Sy plek sal hom nie meer ken nie.
10 Sy kinders bedel by die armes,
want hy sal self sy rykdom
teruggee.
11 Hy is nog maar ’n jong man,
maar sy beendere
lê in die stof.
12 “Hulle het dit geniet
om slegte dinge te doen.
Dit was vir hulle so lekker
soos soetigheid
op die tong.
13 Hulle het dit geproe,
en draai dit om en om
in hulle mond.
14 Maar die soetigheid
sal skielik suur word,
soos die gif van ’n slang
in hulle maag.
15 Die rykdom
wat hy verorber het,
sal hy alles uitbraak.
God sal hom
dit nie laat behou nie.
16 Hy drink die gif van slange.
’n Adder sal hom doodmaak.
17 Hy sal nooit weer
die oorvloed
van olyfolie,
die riviere van melk en heuning
kan geniet nie.
18 Sy harde werk
word nie beloon nie.
Sy rykdom bring hom
geen vreugde nie.
19 Want hy het die armes verdruk
en hulle verwaarloos.
Hy vat vir hom huise
wat hy nie gebou het nie.
20 “Daar is geen einde
aan sy gulsigheid nie.
Daar bly niks oor
van alles
wat hulle opgegaar het nie.
21 Niks het oorgebly as hulle
klaar geëet het nie.
Daarom sal hulle voorspoed
nie voortduur nie.
22 Te midde van oorvloed
tref moeilikheid hom,
en hy word deur rampe verwoes.
23 Terwyl hy versadig is,
oorval God se oordeel hom.
God laat sy straf op hom neerdaal.
24 Al probeer hy ontsnap van ’n
ysterwapen,
’n koperpyl sal hom deurboor.
25 Terwyl hy die pyl trek
uit sy rug
en die glansende punt
uit sy gal,
word hy oorval
deur die verskrikking
van die dood.
26 Sy skatte is verlore
in die duisternis.
’n Vuur wat nie deur mense
aangesteek is nie
verteer hom,
alles wat hy nagelaat het,
word verbrand.
27 Die hemel ontbloot sy skuld,
en die aarde getuig teen hom.
28 ’n Vloed sal sy huis wegspoel.
God se woede reën op hom.
29 Dit is die lot wat wag
vir die kwaaddoener.
Dit is die erfenis
deur God bepaal.”