JOB 18

Bildad praat ’n tweede keer en

antwoord Job

1 Bildad die Suagiet

het Job geantwoord:

2 “Wanneer gaan jy ophou

om so te praat?

Praat met insig,

dan sal ons jou antwoord.

3 Dink jy ons is soos diere?

Dink jy ons is baie dom?

4 Jy pluk jou hare uit

in woede.

Dink jy die aarde sal tot niet gaan

ter wille van jou,

en ’n rots van die kranse afval?

5 “Die waarheid is:

Die lig van die kwaaddoener

sal gedoof word.

Hulle vuur se vlam brand nie lank nie.

6 Die lig in hulle tent verduister.

Die lamp sal skielik doodwaai.

7 Die vaste tred

van die kwaaddoener

sal wankel.

Hulle eie planne

sal hulle ondergang wees.

8 Hulle sal val in ’n vangnet

voor hulle voete,

hulle sal vasval in ’n net.

9 Hulle struikel

oor ’n strik.

’n Strop trek vas om hulle.

10 ’n Vangtou lê begrawe

in die grond op hulle pad.

’n Tou lê opgerol in hulle pad.

11 Gevaar omring die kwaaddoener

en elke tree is gevaarlik.

12 Honger maak hulle swak.

Rampe wag vir hulle.

13 Siekte vreet aan sy vel.

Die ergste dood verorber sy bene.

14 Hulle word weggesleep

uit ’n veilige huis

en hulle buig voor die koning

van verskrikking.

15 Die huis van die kwaaddoeners

sal verbrand word,

en oor alles wat hulle het,

sal swael gestrooi word.

16 Hulle wortels verdroog

en hulle blare verwelk.

17 Alles wat herinner

aan hulle bestaan,

sal verdwyn van die aarde.

Niemand sal hulle name onthou nie.

18 Hulle sal uit die lig

in die duisternis gegooi word,

uitgedryf uit die wêreld.

19 Geen kind of kleinkind,

of enige naasbestaande,

sal in hulle land oorleef nie.

20 In die weste is mense

geskok oor hulle lot.

In die ooste is almal

met afgryse gevul.

21 Hulle sal sê:

‘Dit was die huis

van ’n bose mens,

die plek van iemand

wat deur God verwerp is.’”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

one × 4 =