1 “My gees is gebreek,
my dae word kort.
Die graf wag vir my.
2 Spotters omring my.
Ek sien hoe hulle my tart.
3 “Verdedig my onskuld,
o God,
want niemand anders
kom op vir my nie!
4 U sluit hulle verstand
vir begrip.
Laat hulle nie triomfeer nie.
5 Hulle verraai hulle vriende
tot hulle eie voordeel,
maar hulle eie kinders
vergaan van ellende.
6 “God maak ’n bespotting van my
tussen die mense.
Hulle spoeg my in die gesig.
7 My oë is dof gehuil,
en ek is net maar ’n skadu
van my ou self.
8 Die opregtes is geskok
as hulle my sien.
Die onskuldiges kom in opstand
teen die goddelose mense.
9 Die regverdiges se pad
loop reguit vooruit,
dié met ’n opregte hand
sal sterker en sterker word.
10 “Kom probeer julle
nou maar weer!
Ek kon nie ’n enkele mens
met insig onder julle kry nie.
11 My dae is verby.
My planne het verdwyn.
My hartsbegeertes is gebreek.
12 Hierdie mense
maak van die nag dag,
hulle sê in die donker
dat die lig naby is.
13 Eintlik wil ek maar net sterf.
Ek wil in die nag van die graf
gaan rus.
14 Die graf is my pa,
en die wurm
my ma en my suster.
15 Maar waar is my hoop dan?
Kan iemand dit vind?
16 Nee, my hoop gaan saam met my
na die graf.
Saam sal ons rus in die stof.”