Job praat die vyfde keer
wanneer hy Elifas antwoord
1 Job het weer gepraat:
2 “Ek het dit alles
al vantevore gehoor!
Wat ’n hopelose klomp troosters
is julle nie!
3 Gaan julle nooit ophou
met julle dwase gepraat nie?
Wat dryf julle
dat julle so eindeloos
aanhou praat?
4 Ek sou dieselfde as julle kon sê
as julle in my plek was.
Ek kon ook my kritiek
oor julle giet
en my kop vir julle skud.
5 Nee, dis nie
wat ek sou doen nie.
Ek sou eerder iets sê
wat julle kon bemoedig.
Ek sou probeer
om julle hartseer te verlig.
6 “Maar soos dit nou is,
bly my pyn,
hoe ek ook al myself
probeer verdedig.
Dit help ook nie as ek weier
om te praat nie.
7 O God,
U het my gedaan gemaak.
U het my hele familie uitgeroei.
8 U het my krag verminder
as bewys van my sonde.
U het my vel en been gemaak
en dit getuig teen my.
9 God val my aan.
Hy vernietig my liggaam.
Hy kners sy tande teen my
en deurboor my met sy oë.
10 Mense spot en lag vir my.
Hulle klap my in my gesig.
’n Gespuis versamel teen my.
11 God het my oorgegee
aan sondaars.
Hy het my gegooi
in die hande
van kwaaddoeners.
12 Ek het rustig geleef,
maar toe breek Hy my lewe
in stukke.
Hy het my
aan die nek gegryp
en my aan stukke geslaan.
Ek het sy teiken geword.
13 Sy boogskutters omring my
en sy pyle deurboor my
sonder genade.
Die grond is deurweek
met my bloed.
14 Weer en weer slaan Hy my.
Hy storm af op my
soos ’n soldaat op sy prooi.
15 “Hier sit ek nou in sak en as.
Ek het oorgegee
en sit in die stof.
16 My oë is bloedrooi gehuil.
Daar is swart kringe
onder my oë.
17 En tog is ek
al die tyd onskuldig.
My gebed is opreg.
18 “Moenie my bloed verberg nie,
o aarde.
Laat dit ter wille van my
uitskreeu!
19 Selfs nou is my getuie
in die hemel.
My verdediger is daarbo.
20 My vriende verag my,
maar ek stort my trane uit
voor God.
21 O, dat iemand
’n middelaar sal wees
tussen my en God,
soos iemand pleit
vir sy vriend.
22 “Want baie min jare wag vir my.
Daarna gaan ek op die pad
na die plek van waar ek
nie sal terugkeer nie.”