JOB 15

Elifas praat ’n tweede keer

1 Elifas die Temaniet

het geantwoord:

2 “Jy is mos ’n wyse man

en tog praat jy

betekenislose woorde.

Jy is soos ’n sak vol wind!

3 Dis verkeerd

om so dwaas te praat.

Sulke woorde bereik niks nie.

4 Vrees jy God nie?

Het jy geen ontsag

vir Hom nie?

5 Jou sondige gedagtes

vertel jou mond

wat om te sê.

Jou woorde is misleidend.

6 Maar hoekom sou ek

jou veroordeel?

Jou eie mond doen dit!

Jou lippe getuig klaar

dat jy skuldig is.

7 “Is jy die eerste mens

wat op aarde gebore is?

Is jy gebore

voor die berge gemaak is?

8 Is jy lid van God se geheime raad?

Behoort wysheid aan jou alleen?

9 Wat weet jy

wat ons nie weet nie?

Wat snap jy

wat ons nie ook verstaan nie?

10 Tussen ons is daar ou manne

met grys koppe.

Party van ons is ouer as jou pa.

11 Beteken dit vir jou so min

dat God jou bemoedig?

Is sy sagte woord

nie genoeg nie?

12 Wat het jou verstand

gevange geneem?

Wat het jou uitsig verdof,

13 dat jy teen God draai

met al hierdie bose dinge

wat jy sê?

14 “Kan ’n sterfling suiwer wees,

iemand wat uit ’n vrou gebore is,

regverdig?

15 My wêreld!

God vertrou nie eens

die engele nie!

Selfs die hemel

kan nie suiwer wees

in sy oë nie.

16 Hoeveel minder suiwer

is ’n korrupte mens

vol sonde

met ’n dors na boosheid?

17 “As jy maar net

na my wil luister,

sal ek jou leer.

Ek wil jou uit my ervaring

iets vertel.

18 Wat ek beleef het,

was ook die ervaring

van alle ander wyse mense.

Ook hulle het hiervan gehoor

by hulle voorvaders.

19 Dit kom al uit die tyd

toe die land

aan hulle gegee is,

nog voor daar vreemdelinge

tussen hulle gebly het:

20 Bose mense

is lewenslank in pyn.

Jare se moeite word gebêre

vir die gewetenloses.

21 Hulle word omring

deur verskrikking,

selfs in tye van vrede

vrees hulle ’n aanval

van die vernietiger.

22 Hulle waag dit nie

in die donker nie.

Hulle is bang

om vermoor te word.

23 Hulle dwaal rond vir brood

en sê: ‘Waar is dit?’

Hulle weet

die dag van hulle ondergang

is naby.

24 Daardie donker dag

verskrik hulle,

dit oorweldig hulle

soos ’n koning wat regmaak

vir ’n aanval.

25 Want hulle vuiste

is teen God gebal

om die Almagtige

uit te daag.

26 Agter hulle sterk skilde

storm hulle uitdagend af

op Hom.

27 “Hierdie bose mense

is vet en ryk.

Hulle lewe in oorvloed.

28 Maar hulle woon in stede

wat verwoes sal word.

Hulle sal in verlate huise bly

wat wil inmekaarval.

29 Hulle sal nie veel langer

ryk wees nie.

Hulle geld sal opraak

sodat hulle nie meer

oral in die land

besittings sal hê nie.

30 Hulle sal die donkerte

nie kan ontsnap nie.

Vuur sal hulle verteer

en die asem van God

sal hulle vernietig.

31 Laat hulle nie langer

op hulle skatte vertrou nie.

Hulle bedrieg hulleself,

want ydelheid

is hulle beloning.

32 Hulle sal sterf

in die fleur van hulle lewe,

en hulle sal wees soos ’n tak

wat nooit weer groen sal word nie.

33 Hulle is soos druiwestokke

wat hulle trosse afgooi

voor dit ryp is,

soos ’n olyfboom

wat sy bloeisels afgooi

voor dit vrugte kan vorm.

34 Die goddelose lewe

is vrugteloos.

Hulle huise,

opgerig deur omkopery,

sal deur vuur verteer word.

35 Hulle bedink moeilikheid

en kwaad.

Hulle harte bring bedrog voort.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

three × three =