JOB 14

Hoe kort is die lewe!

1 “Hoe broos is die mens!

Hoe kort is sy lewe!

Hoe vol moeite!

2 Soos ’n blom

bloei dit vir ’n oomblik

en verwelk.

Soos die skadu

van ’n drywende wolk,

so verdwyn dit.

3 Moet U so ’n brose wese

in die oog hou

en verantwoording van my eis?

4 Wie kan reinheid skep

in iemand

wat onrein gebore is?

Niemand nie!

5 U het besluit oor die lengte

van ons lewe.

U bepaal hoeveel maande

ons sal leef,

en nie ’n minuut langer nie.

6 Gee ons tog net ’n bietjie rus.

Kyk tog weg van ons,

want ons is soos gehuurdes

wat ’n taak moet afhandel.

7 “Selfs ’n boom het hoop.

As dit afgekap is,

sal dit weer groei

en nuwe takke uitspruit.

8 Al was sy wortels al oud op die grond

en die stam dood in die stof,

9 met die geur van water

kan dit weer bloei

en lote laat uitspruit

soos ’n jong boom.

10 Maar wanneer mense sterf,

verloor hulle alle krag.

Hulle blaas hulle asem uit,

en waar is hulle dan?

11 Soos water verdamp

uit ’n meer,

en ’n rivier verdwyn

in droogte,

12 so gaan lê die mens

wanneer hy sterf

en kom nie weer regop nie.

Tot die hemele ophou bestaan,

sal hulle nie weer

wakker word

of uit hulle slaap

gewek word nie.

13 “Ek wens U wou my wegsteek

in ’n graf

en van my vergeet

totdat u woede verby is.

Maar merk my op u kalender

om my weer te onthou!

14 Wanneer sterflikes sterf,

kan hulle weer lewe?

Dié gedagte sal my hoop gee,

en deur my worsteling

sal ek gretig wag

op die vrylating.

15 U sal roep

en ek sal antwoord.

U sal verlang na my,

u handewerk.

16 Dan sal U my voetstappe tel,

in plaas daarvan om te kyk

vir my sondes.

17 My sondes sal verseël wees

in ’n sak

en U sal my oortredings bedek.

18 Maar soos berge tuimel

en verkrummel,

en ’n rots van sy plek val,

19 soos water rotse verweer

en ’n vloed grond wegspoel,

so vernietig U mense se hoop.

20 U oorweldig hulle altyd,

en hulle verdwyn

van die toneel.

U verander hulle voorkoms

en stuur hulle weg.

21 Hulle weet nooit

of hulle seuns

grootword in eer

of wegsink in nietigheid nie.

22 Hulle word verteer

deur hulle eie pyn

en treur oor hulleself.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

eighteen − sixteen =