Job praat met God
1 “My oë het dit alles gesien,
en my ore het gehoor
en het dit verstaan.
2 Ek weet net soveel as julle.
Julle is niks beter as ek nie.
3 Hoe wens ek dat ek reguit
met die Almagtige
kon praat!
Ek wil my saak self
aan God gaan stel.
4 Julle beswadder my met leuens.
Julle is niks anders
as kwaksalwers nie!
5 Bly liewer stil!
Dis die slimste ding
wat julle kan doen!
6 Luister na my klag.
Gee aandag aan my betoog.
7 Verdedig julle God met leuens
en gebruik julle
oneerlike argumente
om sy ontwil?
8 Is julle partydig vir Hom?
Wil julle God se saak verdedig?
9 Wees versigtig
dat Hy nie uitvind
wat julle doen nie!
Dink julle dat julle
Hom kan bedrieg
soos ’n mens?
10 Nee, julle sal by Hom
in die moeilikheid wees
as Hy uitvind
dat julle in hierdie hofsaak
kant kies.
11 Vervul sy verhewe mag
julle nie met skrik nie?
Word julle nie aangegryp
deur vrees vir Hom nie?
12 Die waarde van julle stellings
is soos as.
Julle verdediging
is so broos
soos ’n kleipot!
13 “Bly nou stil en laat my alleen!
Laat my praat,
en ek sal die gevolge dra.
14 Waarom sal ek my lewe waag
en sê wat ek dink?
15 God kan my maar tref,
maar ek het geen ander hoop nie.
Ek gaan my saak voor Hom stel.
16 Maar dít is wat my sal red:
dat ek nie Godloos is nie.
As ek so was,
sou ek nie kon kom
in sy teenwoordigheid nie.
17 Luister goed
na wat ek nou gaan sê,
en neem dit ter harte.
18 Ek het my saak voorberei.
Ek sal my onskuld bewys.
19 Wie kan hieroor met my stry?
As iemand my verkeerd
bewys,
sal ek swyg en sterf.
20 O God! Daar is twee dinge
wat ek van U wil smeek,
dan sal ek voor U kan staan.
21 Vat net u hand weg van my
en moet my nie verskrik
met u ontsagwekkende
teenwoordigheid nie.
22 Ontbied my nou,
en ek sal antwoord!
Of laat my eerste praat
sodat U kan antwoord.
23 Sê vir my
wat ek verkeerd gedoen het.
Wys my my opstand
en my sonde.
24 Waarom draai U weg van my?
Waarom beskou U my
as u vyand?
25 Sou U ’n windverwaaide blaar
skrik maak,
of jaag agter ’n grasstoppel aan?
26 U het bittere aanklagte
teen my gelê.
U skryf al die sondes op
vanaf my jeug.
27 U sit my voete in ’n blok.
U let op al my paaie
en volg al my spore.
28 “Ek droog weg
soos hout wat verrot,
soos ’n motgevrete kleed.”