JOB 12

Job praat ’n vierde keer wanneer

hy Sofar antwoord

1 Job het weer gepraat:

2 “Julle weet regtig alles, nè?

Wanneer julle sterf,

sal al die wysheid

daarmee heen wees!

3 Wel, ek weet ook ’n paar dinge.

Julle weet niks meer

as ek nie.

Wie weet nie hierdie dinge

wat julle nou kwytraak nie?

4 “Tog lag my vriende vir my!

Ek is iemand wat roep tot God

en Hy antwoord my.

Ek is regverdig en onskuldig,

maar hulle lag vir my!

5 Mense wat in gemak lewe,

spot met dié

wat moeilikheid het.

Hulle stamp ’n mens

wat alreeds struikel.

6 Maar selfs rowers

word in vrede gelaat.

Dié wat God tart,

leef in veiligheid,

hulle vir wie God in sy mag het.

7 “Vra die diere!

Hulle sal julle leer.

Vra vir die voëls in die lug!

Hulle sal vir julle sê.

8 Praat met die aarde.

Dit sal julle onderrig.

Laat die visse van die see

met julle praat.

9 Hulle weet almal

die Here het dit gedoen.

10 Want die lewe

van elke lewende ding

is in sy hand,

en die asem

van die ganse mensheid.

11 Net soos die mond

goeie kos proe,

so toets die oor

die woorde wat dit hoor.

12 Wysheid behoort

aan die oues van dae,

insig

by dié wat baie jare

geleef het.

13 “Maar ware wysheid en mag

is by God.

Raad en insig is Syne.

14 Wat Hy vernietig,

kan nie herbou word nie.

As Hy op jou toeslaan,

is daar geen ontsnapping nie.

15 As Hy die reën terughou,

word die aarde ’n woestyn.

As Hy die waters loslaat,

verspoel die hele wêreld.

16 Ja, krag en wysheid

behoort aan Hom.

Die bedrieër

en dié wat bedrieg word,

is albei in sy mag.

17 Hy lei raadgewers weg

en stroop hulle

van goeie oordeel.

Hy dryf regters tot waansin.

18 Hy verwyder

die klere van konings.

Hulle word as slawe weggelei.

19 Hy stroop priesters

van hulle status

en onttroon die magtiges.

20 Die vertroude raadgewer

maak Hy stil,

en die insig van die leiers

neem Hy weg.

21 Hy stort skande uit

oor prinse,

en buit wapens van sterkes.

22 Hy oorspoel donker dinge met lig,

en verlig

die diepste duisternis.

23 Hy bring nasies tot stand

en vernietig hulle.

Hy laat nasies groei

en verwerp hulle.

24 Hy verwyder die insig

van konings

en laat hulle ronddwaal

in ’n wildernis

sonder ’n pad.

25 Hulle tas in die donker

sonder ’n lig.

Hy laat hulle slinger

soos dronkaards.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

five − five =