GENESIS 49

Jakob seën sy seuns

1 Jakob roep toe al sy seuns bymekaar en sê: “Kom staan hier om my sodat ek julle kan vertel wat in die toekoms met julle sal gebeur.

2 “Kom luister, seuns van Jakob;

luister na Israel, julle vader.

3 “Ruben, jy is my oudste seun,

die kind van my kragtige jeug,

die vernaamste en die sterkste.

4 Jy is onstuimig

soos die golwe van die see,

maar jy sal nie langer

die belangrikste wees nie.

Want jy het by een van my vroue

geslaap;

jy het my in my bed onteer.

5 “Simeon en Levi is een en dieselfde,

mense van geweld en wapens.

6 Ek wil ver van hulle af bly.

Ek wil nooit deel hê aan hulle bose

planne nie,

hulle wat in woede mense vermoor

het,

diere vir die plesier vermink het.

7 Vervloek is hulle woede, want dit is

wreed.

Daarom sal hulle nageslag verstrooi

word,

uitgestrooi oor die hele Israel heen.

8 “Juda, jou broers sal jou prys.

Jy sal jou vyande onderwerp.

Jou broers sal voor jou buig.

9 Juda is ’n jong leeu

wat pas sy prooi verslind het.

Soos ’n leeu rek hy uit en gaan lê,

soos ’n leeumannetjie, en wie sal

hom steur?

10 Die mag sal nie van Juda

weggeneem

word nie,

ook nie die heerskappy van sy

nasate

nie,

totdat die een kom aan wie dit

behoort,

die een vir wie die nasies sal

gehoorsaam.

11 Hy maak sy donkie vas aan ’n

druiwestok,

die vul van sy donkie aan die beste

wingerdstok.

Hy was sy klere in wyn,

sy kleed in druiwemos.

12 Sy oë is donkerder as wyn

en sy tande witter as melk.

13 “Sebulon sal hom vestig aan die kus

by die see

en sal ’n hawe wees vir skepe.

Sy grense sal tot by Sidon strek.

14 “Issaskar is ’n sterk pakdier

wat rus by die veekrale.

15 Wanneer hy sien hoe goed die plek

is,

hoe mooi die landstreek,

sal hy ’n las vrywillig dra

en hom aan dwangarbeid onderwerp.

16 “Dan sal regspreek oor sy mense

as een van die stamme in Israel.

17 Hy is ’n slang langs die pad,

’n giftige adder langs die voetpad

wat pik na die hakskeen van perde

en die ruiter agteroor laat val.

18 Ek wag op u verlossing, o Here!

19 “Gad sal deur rowerbendes

geplunder word,

maar hy sal hulle aanval van agter af.

20 “Aser sal voedsame kos produseer,

voedsel geskik vir ’n koning.

21 “Naftali is ’n bok wat vrygelaat is

en pragtige lammers voortbring.

22 “Josef is ’n vrugbare boom,

’n vrugbare boom by ’n fontein.

Sy takke strek oor die muur.

23 Hy word aangeval deur boogskutters

wat na hom skiet en hom teister.

24 Maar sy boog het sterk gebly,

sy arms het meer krag gekry

deur die Magtige Een van Jakob,

die Herder, die Rots van Israel.

25 Mag die God van ons vaders jou help;

mag die Almagtige jou seën

met die seëninge uit die hemel daarbo,

seëninge van die aarde hieronder,

en seëninge van borste en

moederskoot.

26 Mag die seëninge van jou pa

meer wees as die seëninge van die

ewige berge,

as die oorvloed van die eeue oue

heuwels.

Hierdie seëninge sal op die kop van Josef

kom,

hy wat die leier is onder sy broers.

27 “Benjamin is ’n wolf op soek na prooi.

Hy verslind sy prooi in die oggend

en in die aand verdeel hy die buit.”

28 Dit is die twaalf stamme van Israel en dit is die seëninge waarmee Jakob sy twaalf seuns geseën het. Elkeen het ’n seën ontvang wat vir hom toepaslik was.

Jakob se dood en sy begrafnis

29 Jakob het hulle opdrag gegee: “Ek gaan binnekort sterf. Begrawe my by my pa en oupa in die grot wat op die grond van Efron die Hetiet is.

30 Dit is die grot van Makpela, naby Mamre in Kanaän, wat Abraham van Efron die Hetiet as ’n permanente begraafplek gekoop het.

31 Abraham en sy vrou Sara is daar begrawe. Daar is ook Isak en sy vrou Rebekka begrawe. En daar het ek vir Lea begrawe.

32 Dit is die grot wat my oupa Abraham van die Hetiete gekoop het.”

33 Toe Jakob klaar was met sy opdragte, het hy sy voete in sy bed opgetrek, sy laaste asem uitgeblaas en gesterf.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 + 10 =