EKSODUS 15

’n Lied van Bevryding

1 Moses en die Israeliete het toe hierdie lied vir die Here gesing:

Ek wil oor die Here sing,

want Hy is geweldig groot;

Hy het perd en oorlogwa

in die see gesmyt.

2 My krag en my sterkte

kom van die Here.

Hy gee my die oorwinning.

Hy is my God.

Ek wil Hom loof.

Hy was my voorouers se God.

Ek wil sy Naam verhoog.

3 Die Here is ’n vegter;

sy Naam is “Here”.

4 Die farao se oorlogwaens

en weermag

het Hy in die see gegooi.

Die dapperste van die farao se

offisiere

het in die Rietsee verdrink.

5 Massas water

het oor hulle toegevou;

hulle het soos ’n klip

in die dieptes weggesink.

6 U regterhand, Here, is sterk.

U regterhand, Here,

verbrysel die vyand.

7 U is geweldig hoog.

U verpletter hulle

wat U probeer teenstaan.

U woede bars los, U verwoes hulle

soos vuur wat gras verbrand.

8 U het op die water geblaas

en dit het opgedam!

Die water het opgestapel

soos ’n muur;

waters in die middel van die see

het soos ys gestol.

9 Die vyand het gesê:

Ek sal hulle agternasit;

ek sal hulle inhaal en vernietig,

ek sal hulle plunder;

ek sal my op hulle wreek,

ek sal my swaard uitpluk;

ek sal hulle

met geweld verwoes.

10 Toe U op die see geblaas het,

het die see oor hulle gespoel.

Hulle het soos lood gesink

in die massas water.

11 Wie van die gode

kan met U vergelyk word,

Here?

Wie is so hoog en heerlik

soos U?

Wie is so vreesaanjaend groot?

Wie kan sulke wondere doen

soos wat U laat gebeur?

12 U het u regterhand uitgesteek,

die aarde het u vyand

ingesluk.

13 Hierdie volk wat U gered het,

lei U met liefde.

U sal hulle lei met u krag

na die plek

waar u Naam heers.

14 Die volke sal daarvan hoor

en begin bewe;

die kele van die inwoners

van die land van die Filistyne

gaan toetrek.

15 Die leiers van Edom

raak lam van die skrik;

die sterk manne van Moab

se knieë klap teen mekaar;

dié wat in Kanaän woon

se moed sak in hulle skoene;

16 Verskrikking en vrees

oorval hulle

omdat U so sterk is.

Hulle sal tjoepstil wees, Here,

as u volk by hulle verbytrek,

u volk

wat U vir Uself gekoop het.

17 U sal hulle inbring

en laat woon

op die berg wat aan U behoort

die plek wat U gekies het

as woonplek, Here,

die heiligdom wat U gemaak het

met u eie hande, Here.

18 Die Here sal regeer

vir altyd, ja, altyd!

19 Werklikwaar! Toe die perde van die farao, sy oorlogwaens en hulle bemanning deur die see wou gaan, het die Here die water van die see op hulle laat instort. Die Israeliete was reeds droogvoets deur die see toe dit gebeur het.

Die Lied van Mirjam

20 Mirjam was ’n vroulike profeet. Sy was Aäron se suster. Sy het ’n tamboeryn gevat en al die vroue het agter haar aan gedans terwyl hulle op tamboeryne slaan.

21 Mirjam het vir hulle voorgesing:

“Sing vir die Here,

want Hy is geweldig hoog.

Perd en ruiter

het Hy in die see gegooi.”

Bitter water word soet

22 Moses het die volk toe weggelei van die Rietsee af. Hulle het na die Surwoestyn getrek. Drie dae lank het hulle deur die woestyn getrek en geen water gekry nie.

23 Toe hulle by die plek Mara kom, was daar uiteindelik water. Die water was egter brak en hulle kon dit nie drink nie. Dit is hoekom die plek Mara genoem is.

24 Die volk het toe by Moses gaan kla: “Wat moet ons dan drink?”

25 Moses het hulp by die Here gaan soek. Die Here het vir hom ’n stuk hout uitgewys. Hy het dit gevat en in die water gegooi. Dit het die water drinkbaar gemaak.

Dit was hier by Mara waar die Here die volgende reëling getref het om hulle te toets:

26 “As julle goed luister na die Here julle God en doen wat vir Hom reg is, gehoorsaam is aan sy wette en reëls, dan sal Ek julle nie dieselfde dinge laat oorkom as die Egiptenaars nie. Ek is die Here wat julle gesond sal hou.”

27 Toe hulle van Mara af weg is, het hulle by Elim gekom. Daar was ’n oase met twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar kamp opgeslaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

three × 5 =