Jerusalem se sonde en herstel
1 Wee die eiesinnige Jerusalem,
besoedelde stad van verdrukking.
2 Hulle is ongehoorsaam
en wil nie reggehelp word nie.
Hulle vertrou nie op die Here nie,
en aanbid nie hulle God nie.
3 Die stadsleiers is soos brullende leeus
wat jag maak op hulle prooi.
Die regters is wolwe
wat snags aas soek
en teen die môre niks oorlaat nie.
4 Die profete is verwaande leuenaars
wat net hulle eie voordeel soek.
Die priesters verontreinig die tempel
en oortree God se voorskrifte.
5 Maar die Here bly nog in die stad.
Hy doen geen onreg nie.
Dag vir dag is sy uitsprake regverdig,
elke nuwe dag sonder uitsondering.
Maar niemand sien dit raak nie,
en goddeloses
ken geen skaamte nie.
6 “Ek het baie nasies uitgeroei,
hulle verdedigingsmure vernietig.
Ek het hulle strate so beskadig
dat hulle onbegaanbaar is.
Ek het hulle stede só verwoes
dat geen inwoners oor is nie.
Hulle is heeltemal verlate.
7 Ek het gedink:
‘Nou sal hulle My eer en respekteer!
Hulle sal my voorskrifte
nou seker met erns beskou.
Dan sou dit nie nodig wees
om die stad weer te tref nie.’
Maar die teendeel is waar.
Hoe swaar Ek hulle ook al straf,
met ywer gaan hulle voort
om sondige dinge te doen.”
8 Maar nou sê die Here:
“Wees geduldig,
want die tyd breek aan vir My
om met regspraak te begin.
Ek sal die nasies versamel
en koninkryke bymekaarmaak.
My toorn en brandende woede
sal Ek oor hulle uitstort.
Die hele aarde sal verteer word
deur die vuur van my woede.
9 “Dan sal Ek die volke
’n suiwer taal gee
sodat hulle almal die Here aanroep
en Hom saam aanbid.
10 Selfs my volk wat verstrooi is
tot oorkant die riviere van Etiopië
sal kom om vir My offers te bring.
11 Dan hoef julle nie langer
skaam te wees
vir wat julle gedoen het
toe julle teen My
in opstand gekom het nie.
Ek sal ontslae raak van hoogmoediges
en arrogante mense onder julle.
Julle sal nie meer vol verwaandheid
op my tempelberg aanbid nie.
12 Ek sal eenvoudiges en behoeftiges
onder julle laat oorbly.
Hulle sal op die Here vertrou.
13 Die mense van Israel wat oorbly,
sal nie verkeerde dinge doen nie.
Hulle sal nie leuens vertel nie
en mekaar ook nie bedrieg nie.
Hulle sal soos skape rustig wei
en gaan lê om te slaap
sonder om vir iemand bang te wees.”
14 Sing, Jerusalem!
Skree hard, o Israel!
Wees bly en juig met oorgawe,
dogter van Jerusalem!
15 Die Here sal julle nie meer straf nie.
Hy sal julle vyande verdryf.
Die Here is Koning van Israel.
Hy is by julle.
Julle hoef nie meer enige rampe
te vrees nie.
16 Daardie dag sal vir Jerusalem
gesê word:
“Moenie bang wees nie, Sion!
Moenie moedeloos word nie.
17 Die Here jou God is by julle.
Hy is ’n magtige Verlosser.
Hy is buitengewoon bly oor julle.
Sy liefde sal julle rustig maak.
Met uitroepe van vreugde
sal Hy oor julle jubel.”
18 “Dié wat treur, maak Ek bymekaar,
ver van die plek van ontmoeting.
Dit is hulle wat uit jou voortkom
en swaar dra aan die skande.
19 Ek sal in dié tyd afreken met almal
wat julle onderdruk het,
Ek sal die hulpelose mense help.
Ek sal die verstrooides terugbring.
Dié wat verneder is in ander lande,
hulle naam sal Ek in eer herstel.
20 Op die regte tyd
sal Ek julle bymekaarmaak
en julle terugbring huis toe.
Ek sal sorg dat volke van die wêreld
julle weer ag
en met respek behandel.
Julle sal met julle eie oë sien
hoe Ek julle lot verander,
sê die Here!”