SAGARIA 10

Die Here sal sy volk herstel

1 Vra die Here

vir reën in die lente

en Hy sal dit gee.

Hy maak onweerswolke

wat stortreën laat val

sodat elke veld lowergroen word.

2 Wat die huisgode sê,

is valse raad,

waarsêers

voorspel net leuens,

die uitlêers van drome

verkondig net leë troos.

My volk dwaal

soos verlore skape

sonder ’n herder

wat hulle beskerm en lei.

3 “My woede brand

teen julle herders

en Ek sal hierdie leiers straf.

Die Here, die Almagtige,

het aangekom

om sy kudde te versorg.

Hy gaan hulle sterk maak

soos ’n trotse oorlogsperd.

4 Uit Juda sal die hoeksteen,

die tentpen, die oorlogsboog

en al die heersers kom.

5 Hulle sal in ’n geveg

soos dapper soldate wees

wat hulle vyande

met hulle voete

in die modder sal vertrap.

Omdat die Here by hulle is

in die geveg

sal hulle die perderuiters

van die vyand oorwin.

6 “Ek sal Juda sterk maak

en Israel red.

Ek sal hulle herstel

omdat Ek hulle liefhet.

Dit sal wees

asof Ek hulle nooit

verwerp het nie,

want Ek is die Here hulle God

wat hulle gebede verhoor.

7 Israel sal soos dapper helde wees,

hulle harte sal gelukkig wees

asof hulle wyn gedrink het.

Hulle kinders sal alles sien

en ook bly wees;

hulle harte sal juig in die Here.

8 Wanneer Ek vir hulle fluit,

sal hulle aangehardloop kom

omdat Ek hulle verlos het.

Uit die min wat oorgebly het,

sal hulle bevolking groei

soos wat dit vroeër was.

9 Hoewel Ek hulle verstrooi het

soos saad tussen die nasies,

sal hulle My bly onthou

in veraf lande.

Met hulle kinders

sal hulle oorleef

en weer terugkom huis toe,

na Israel toe.

10 Ek sal hulle terugbring

uit Egipte en uit Assirië

en hulle hervestig in Gilead

en Libanon.

Daar sal nie genoeg plek

vir almal wees nie!

11 Hulle sal veilig trek

deur die see van nood

omdat die golwe van die see

teruggehou sal word.

Die water van die Nylrivier

sal droog word.

Die trots van Assirië

sal vernietig word

en die heerskappy van Egipte

sal tot ’n einde kom.

12 Ek sal my volk sterk maak

in my krag

en hulle sal in my Naam lewe,

sê die Here.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

11 − 9 =