Sing ’n nuwe lied
’n Psalm.
1 Sing vir die Here ’n nuwe lied,
want Hy het wonders
gedoen.
Hy het verlossing bewerk
met sy krag
en Goddelike mag.
2 Die Here het sy redding
aangekondig.
Voor die oë van die nasies
het Hy sy regverdigheid
getoon.
3 Hy het sy liefde en trou
teenoor die huis van Israel
onthou.
Ons God se redding was sigbaar
tot aan die uithoeke
van die aarde.
4 Laat die hele aarde
die Here loof.
Breek uit in sang,
sing van vreugde!
5 Bring lof aan die Here
met die lier,
met lier en met sang,
6 met trompette en ramshoring.
Juig tot eer van die Here,
die Koning.
7 Die see en alles daarin
moet druis,
die wêreld en almal
wat daarin woon.
8 Die riviere
moet hande klap,
die berge
moet jubel
9 voor die Here.
Want Hy kom
om die aarde te oordeel.
Hy sal die wêreld
regverdig oordeel,
en die volke met billikheid.