PSALMS 94

Die Regter van die hele

aarde

1 God wat onreg oordeel, Here,

God van oordeel,

vertoon tog Uself!

2 Kom, Regter van die aarde!

Vergeld die hoogmoediges

volgens wat hulle verdien.

3 Hoe lank, Here,

sal die goddeloses,

hoe lank sal die goddeloses

seëvier?

4 Hulle borrel oor

met astrante woorde;

al die boosdoeners

spog daarmee.

5 Hulle vertrap u volk,

Here,

en verdruk dié

wat aan U behoort.

6 Weduwees en vreemdelinge

bring hulle om die lewe,

en weeskinders maak hulle dood.

7 Hulle sê:

“Die Here sien dit nie;

die God van Jakob

bemerk dit nie.”

8 Dink weer, julle onnoseles!

Wanneer word julle wys,

dwase?

9 Is Hy wat die ore gemaak het,

doof?

Is Hy wat die oë gevorm het,

blind?

10 Sou Hy wat die nasies straf,

dan nie straf nie?

Sou Hy wat onderrig,

aan kennis ontbreek?

11 Die Here ken mense

se gedagtes,

Hy weet dat dit niks werd is nie.

12 Geseënd is hulle

vir wie U vermaan, Here,

vir wie U uit u gebooie onderrig.

13 U gee hom verligting

in moeilike tye,

maar vir die goddelose

wag ’n graf.

14 Die Here sal sy volk

sekerlik nie verlaat nie,

en sy erfdeel

nie laat vaar nie.

15 Regspraak sal kom

vir die regverdiges

en al die opregtes

sal dit soek.

16 Wie beskerm my

teen goddeloses?

Wie staan my by

teen boosdoeners?

17 As die Here

my nie gehelp het nie,

was die stilte van die graf my lot.

18 Toe ek sê: “My voet gly!”

het u trou my ondersteun,

Here.

19 Wanneer twyfel my oorweldig,

het u troos my verbly.

20 Kan ’n bose regeerder

aan U verbind wees,

iemand wie se wette

ellende bring?

21 Hulle span saam

teen regverdiges,

veroordeel onskuldiges

tot die dood.

22 Maar die Here is my toevlug;

my God is ’n rots

waar ek kan skuil.

23 Hy sal hulle sondes vergeld,

hulle vernietig

oor hulle boosheid.

Die Here ons God

sal hulle uitwis.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

4 × two =