’n Noodroep
1 ’n Lied. ’n Psalm van die Koragiete.
Vir die koorleier: Met fluitspel.
’n Gedig. Van Heman, die Esragiet.
2 Here, God van my verlossing,
dag en nag roep ek tot U.
3 Luister tog nou na my gebed;
hoor my hulpgeroep.
4 Want my lewe is vol ellende,
en die dood kom al nader.
5 Ek word getel saam met dié
wat op pad is na die graf.
Ek het geword soos ’n sterk man
met geen krag meer oor nie.
6 Ek word saam met dooies getel,
saam met gesneuweldes
in die graf,
hulle vir wie U nie meer onthou nie,
wat afgesny is
van u versorging.
7 U het my heel onder
in die diepste kuil gesit,
in die donkerste dieptes.
8 U toorn rus swaar op my,
u golwe het oor my geslaan.
Sela
9 U het my vriende
van my weggeneem.
U het gemaak
dat hulle my verafsku.
Ek is vasgevang
en kan nie ontsnap nie.
10 My oë is dof van droefheid.
Here, elke dag roep ek U
om hulp,
en sprei my hande uit na U
in gebed.
11 Is u wonders
vir die dooies bestem?
Staan dooies op om U te loof?
Sela
12 Word u liefde
in die graf verkondig,
en u trou in die plek van verderf?
13 Is u wonders bekend
in die donkerte,
u regverdigheid
in die plek van vergetelheid?
14 Maar ek roep na U om hulp,
Here.
Elke oggend
is my gebed voor U.
15 Here, waarom verstoot U my?
Waarom draai U weg van my?
16 Vanaf my jeug het ek gely
en was ek naby my dood.
Die las van u verskrikking
het my in verwarring.
17 U toorn het my oorweldig;
u verskrikking
het my vernietig.
18 Die hele dag omring hulle my
soos vloedwater
en sak op my toe van alle kante.
19 U het geliefdes en vriende
van my weggeneem.
Duisternis
is my enigste geselskap.