U help en vertroos my
1 ’n Dawidsgebed.
Luister tog na my gebed, Here!
Antwoord my,
want ek is arm en ellendig.
2 Beskerm my,
want ek is getrou aan U.
Red my, want ek is u dienaar.
U is my God op wie ek vertrou.
3 Wees my genadig, Here,
want die hele dag roep ek tot U.
4 Gee tog vir my blydskap,
want na U is my verlange,
Here.
5 U is waarlik goed, Here, U vergewe.
U is vol liefde vir almal
wat by U hulp soek.
6 Luister goed na my gebed,
Here,
gee tog ag op my hulpgeroep.
7 In tye wanneer ek in nood is,
sal ek U aanroep,
want U sal my antwoord.
8 Daar is nie ’n god soos U nie,
Here.
Niemand kan u werke
naboots nie.
9 Al die nasies wat U gemaak het,
sal kom
en voor U neerbuig, Here;
hulle sal u Naam verheerlik.
10 Want U is groot
en doen wonderdade.
U alleen is God.
11 Leer my u weë, Here,
sodat ek in u waarheid
kan wandel.
Gee my ’n onverdeelde trou
om so u Naam te dien.
12 Met my hele hart sal ek U prys,
Here, my God.
Ek sal u Naam
vir altyd verheerlik,
13 want u liefde vir my
is baie groot.
U het my uit die doderyk gered.
14 O God, verwaande mense
het my aangeval.
Geweldenaars wil my doodmaak,
mense met geen agting vir U nie.
15 U, Here, is barmhartig
en genadig,
U is stadig om kwaad te word,
vol liefde en trou.
16 Sien my raak
en wees my genadig.
Gee sterkte aan u dienaar,
red die seun van u dienares.
17 Stuur my ’n teken van u guns.
My haters sal toekyk
en verslae wees,
want U, Here,
help en vertroos my.