Here, U het vergewe
1 Vir die koorleier: Van die Koragiete.
’n Psalm.
2 Here, U was goed vir u land.
U het die lot van Jakob
verander.
3 U het die skuld van u volk
vergewe.
U het al hulle sondes
kwytgeskeld.
Sela
4 U het u woede bedwing.
U het u gloeiende toorn laat afkoel.
5 Herstel ons,
God van ons redding.
Laat vaar u woede teen ons.
6 Sal U altyd vir ons kwaad bly?
Sal u woede dan voortduur
van geslag tot geslag?
7 Sal U nie ons
weer laat herlewe
sodat u volk bly kan wees
in U nie?
8 Laat ons u troue liefde ervaar,
Here,
en skenk ons u verlossing.
9 Ek sal luister
na wat God die Here sê.
Hy belowe vrede aan sy volk
en aan hulle wat getrou is.
Laat hulle nie weer terugkeer
na hulle dwase weë nie.
10 Redding is beslis voor die deur
vir hulle wat Hom dien.
Dan sal sy magtige
teenwoordigheid
in ons land bly woon.
11 Liefde en trou
sal mekaar ontmoet.
Regverdigheid en vrede
sal mekaar omhels!
12 Waarheid sal uit die aarde
ontspring, en geregtigheid
uit die hemel.
13 Die Here sal beslis voorspoed gee,
en ons land sal oeste oplewer.
14 Regverdigheid
sal Hom vooruit gaan
en vir sy koms die weg berei.