PSALMS 83

Komplotte teen u volk

1 ’n Asafpsalm.

2 Moenie onverskillig toekyk nie,

o God.

Moenie stilbly en niks doen nie,

o God!

3 Luister na die rumoer

van u vyande!

U haters het hulle teen U verset.

4 Hulle smee komplotte

teen u volk,

hulle maak planne

teen hulle vir wie U beskerm.

5 “Kom,” sê hulle.

“Laat ons hulle as nasie uitwis

sodat die naam van Israel

nie meer onthou sal word nie.”

6 Hulle het eenparig saamgespan,

en ’n verdrag teen U gesluit:

7 Dit is

die Edomiete en Ismaeliete,

Moabiete en Hagareërs,

8 Gebal, Ammon en Amalek,

Filistea en die inwoners

van Tirus.

9 Selfs Assirië het by hulle

aangesluit

as bondgenote van die nasate

van Lot.

Sela

10 Maak met hulle

soos met Midian,

soos U met Sisera en Jabin

by Kisonspruit gedoen het.

11 By En-Dor is hulle vernietig,

en het bemesting

vir die grond geword.

12 Maak hulle leiers

soos Oreb en Seëb,

en al hulle aanvoerders

soos Seba en Salmunna.

13 Hulle het gesê:

“Kom ons vat dit vir ons,

hierdie land van God!”

14 My God,

maak hulle soos ’n tolbos,

soos kaf voor die wind.

15 Soos vuur ’n woud verteer,

soos ’n vlam

berge aan die brand steek,

16 agtervolg hulle só

met u orkaan,

verskrik hulle met u stormwind.

17 Maak hulle tot skande, Here,

sodat hulle u Naam sal eer.

18 Laat hulle altyd beskaamd

en verskrik wees.

Laat hulle verward wees

en vergaan

19 sodat hulle kan weet

net u Naam is die Here,

die Allerhoogste,

oor die hele aarde.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

16 + three =