Wie kan voor God
standhou?
1 Vir die koorleier: Met snarespel.
’n Asafpsalm. ’n Lied.
2 God het Hom bekendgemaak
in Juda;
sy Naam is groot in Israel.
3 Hy woon in Salem;
Sionsberg is sy woning.
4 Daar het Hy
die brandpyle vernietig,
skilde, swaarde en oorlogswapens.
Sela
5 Die glans van u verskyning
is heerliker
as die hoogste berge.
6 Dapper soldate is geplunder,
in hulle slaap oorweldig.
Geen soldaat
kon ’n hand oplig nie.
7 Toe U hulle bestraf,
o God van Jakob,
het ruiter en perd
dood neergeval.
8 U moet gevrees word, ja, U!
Wie kan voor U standhou
wanneer u toorn ontbrand?
9 Uit die hemel
het U uitspraak gelewer;
die wêreld was bang en stil.
10 God het opgestaan
om te oordeel,
om die verdruktes op aarde
te red.
Sela
11 Die woede van mense –
dit verander U tot lof.
Wat nog daarvan oorbly,
gebruik U in u diens.
12 Maak geloftes
aan die Here jou God,
en voer dit uit.
Laat almal rondom Hom
geskenke bring
aan Hom, die Ontsagwekkende.
13 Hy breek die moed van prinse;
konings van die aarde
is bang vir Hom.