PSALMS 74

Hoe lank sal die vyand

spot?

1 ’n Gedig van Asaf.

Waarom, o God,

verstoot U ons so lank?

Waarom is U so kwaad

vir hulle wat aan U behoort?

2 Dink tog aan u gemeente

wat U lank gelede gekies het,

die volk gekoop as u eie erfenis,

Sionsberg,

waar U gewoon het.

3 Kom loop tog gou tussen die puin

van lank gelede,

die puin van u heiligdom

wat die vyand verwoes het.

4 Daar het die oorwinningskrete

van u vyand weerklink,

hulle vyand het gevegsbaniere

opgerig.

5 Dit was asof mense,

met byle omhoog,

bome afkap in ’n digte bos.

6 Al die houtsneewerk het hulle

nou met byle en koevoete

verpletter.

7 Hulle het u heiligdom verbrand,

die woonplek van u Naam

tot op die grond ontheilig.

8 Hulle sê vir mekaar:

“Laat ons alles vernietig!”

Toe verbrand hulle

elke plek in die land

waar God vereer is.

9 Ons sien nie wondertekens nie;

daar is geen profeet meer nie;

en niemand by ons weet

vir hoe lank nie.

10 Hoe lank, o God,

sal ons vyande U bespot?

Hoe lank sal hulle u Naam

vir altyd beledig?

11 Hoekom hou U

u regterhand terug?

Steek uit u hand

en vernietig hulle!

12 U, o God, is van lankal af

my koning,

U bring redding op die aarde.

13 Deur u krag

het U die see verdeel,

die koppe van seemonsters

in die water vermorsel.

14 Die koppe van die Leviatan

het U verpletter.

U het hom as kos

vir die woestyndiere gegee.

15 U laat fonteine en strome vloei,

en standhoudende riviere

opdroog.

16 Selfs dag en nag

behoort aan U;

U het die son en maan gemaak.

17 U het die grense van die aarde

bepaal,

somer en winter het U gemaak.

18 Dink tog, o Here,

hoe die vyand U bespot,

hoe ’n dwase volk

u Naam belaster.

19 Moenie die lewe van u duiwe

aan wilde diere gee nie.

Moenie u verdrukte volk

vir altyd vergeet nie.

20 Kyk tog na u verbond,

want tot in die donkerste hoekies

is die aarde vol geweld!

21 Moenie dat die verdrukte

in skande omdraai nie.

Laat die behoeftiges en armes

u Naam liewer prys.

22 Staan op, o God,

en verdedig u saak.

Onthou hoe dwase mense

U die hele dag beskuldig.

23 Vergeet nie die geraas

van u vyande,

die lawaai van u teenstanders

wat voortdurend opgaan nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

one × 2 =