PSALMS 69

Trek my op uit die modder

1 Vir die koorleier: Op die wysie van

“Lelies”. Van Dawid.

2 Red my, o God!

Die vloedwaters

is reeds tot by my keel.

3 Dieper en dieper

sink ek in modder,

met geen plek om te staan nie.

In diep waters het ek beland,

en die stroom oorweldig my.

4 Ek is uitgeput

van roep om hulp.

My keel is hees en my oë dof,

terwyl ek wag

dat God my help.

5 Hulle wat my haat

sonder oorsaak

is meer as die hare op my kop.

Talryk is hulle

wat my wil vernietig,

en dit sonder oorsaak.

My vyande is leuenaars

wat eis dat ek teruggee

dit wat ek nie gesteel het nie.

6 O God, U weet

hoe dwaas ek is;

ek kan my skuld

nie vir U wegsteek nie.

7 Moenie dat hulle

wat op U vertrou,

deur my beskaam word nie,

oppermagtige Here, die Almagtige.

Moenie dat hulle wat U dien

deur my verneder word nie,

o God van Israel.

8 Om u ontwil

moet ek veragting verduur,

is ek tot skande gemaak.

9 Vir my broers

het ek ’n onbekende geword,

’n vreemdeling

vir die seuns van my moeder.

10 ’n Ywer vir u huis

brand in my,

die beledigings teen U gemik,

tref ook vir my.

11 Wanneer ek huil terwyl ek vas,

moet ek hulle beledigings

verduur.

12 Wanneer ek rouklere aantrek,

skeer hulle met my die gek.

13 Dié wat sit in die stadspoort

skinder van my,

en die dronkaards

maak liedjies oor my.

14 Wat my betref,

ek bid tot U,

Here;

antwoord my op u bestemde tyd,

o God.

In die grootheid

van u troue liefde,

antwoord my

met u troue redding!

15 Trek my op uit die modder

sodat ek

nie dieper wegsink nie!

Red my van my haters

en uit die diep waters.

16 Moenie dat die watervloed

my oorweldig,

of die diep waters

my insluk,

of die graf bokant my

toegaan nie.

17 Antwoord my, Here,

want u genade is goed;

verhoor my

in u groot barmhartigheid.

18 Moenie u gesig

vir u dienaar wegdraai nie;

antwoord my gou,

want ek is in nood!

19 Kom na my toe

en red my lewe.

Bevry my tog

van al my vyande.

20 U ken die beledigings,

die vernedering

en die skande;

U het al my vyande gesien.

21 Hulle beledigings

het my gebreek,

en ek is radeloos.

Ek het gesoek

vir meegevoel,

maar tevergeefs;

vir ’n bemoediger,

maar daar was niemand.

22 In plaas van kos

gee hulle my gif;

hulle gee asyn

om my dors te les.

23 Laat die feesmaal

op hulle tafel

’n strik word.

Laat hulle welvaart

hulle ondergang wees.

24 Laat hulle oë blind word,

en hulle liggame al swakker.

25 Stort u woede uit op hulle;

laat u brandende toorn

hulle verteer.

26 Mag hulle wonings leeg staan

en hulle tente verlate.

27 Hulle vervolg die een

wat U reeds getref het

en vertel van die pyn

van dié wat U deurboor het.

28 Stapel hulle sonde op

sodat hulle nie sal deel

in u vryspraak nie.

29 Wis uit hulle name

uit die Boek van die Lewe

sodat hulle nie as regverdiges

opgeteken sal word nie.

30 Ek is ellendig en in pyn.

Laat u redding, o God,

my beveilig.

31 Ek sal God se Naam

loof met sang,

Hom met danksegging

verheerlik.

32 Die Here verkies dit bo bulle

en bo ’n volmaakte offerdier.

33 Die verdruktes sal dit sien

en bly wees.

Laat almal wat God dien,

weer moed skep,

34 want die Here

hoor dié in nood,

en vergeet nie sy mense

wat in aanhouding is nie.

35 Laat hemel en aarde Hom prys,

die see en alles

wat daarin beweeg.

36 Want God sal Sion red

en die stede van Juda herbou.

Sy volk sal daar woon

en die land besit.

37 Die nageslag van sy dienaars

sal dit erf;

en hulle wat sy Naam liefhet,

sal daar woon.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

4 × 4 =