PSALMS 60

God is die Oorwinnaar

1 Vir die koorleier: Op die wysie van “Die

lelie”. ’n Getuienis. ’n Gedig van Dawid, bedoel vir onderwysing 2 met verwysing na sy geveg teen die Arameërs van

Mesopotamië en die Arameërs van Sob,

toe Joab teruggekeer het en 12 000

Edomiete in die Soutvlakte verslaan het.

3 U het ons verstoot, o God,

ons verdediging afgebreek.

U was vir ons kwaad;

herstel tog u guns oor ons.

4 U het ons land geskud

en dit oopgeskeur.

Heel tog die krake,

want dit stort ineen.

5 U het u volk

laat swaarkry,

ons wyn laat drink

wat ons laat slinger.

6 Vir dié wat U dien,

het U ’n vaandel gehys,

’n versamelplek

teen die boogskutters.

Sela

7 Red ons met u krag en help ons

sodat U u geliefde volk kan red.

8 In sy heilige woonplek

het God gesê:

“As oorwinnaar

sal Ek Sigem verdeel

en die vallei van Sukkot uitmeet.

9 Gilead is Myne,

ook Manasse behoort aan My.

Efraim sal my krygsmanne

voortbring

en Juda sal my konings oplewer.

10 Moab sal my dienaar word

en Edom sal my slaaf wees.

Oor Filistea juig Ek

as oorwinnaar.”

11 Wie sal my lei

na die versterkte stad?

Wie sal my na Edom toe bring?

12 Het U ons verwerp, o God?

Sal U, o God,

saam met ons leërs opruk?

13 Help ons tog

teen ons vyande,

want menslike hulp

is waardeloos.

14 Met God se hulp

sal ons seëvier,

want Hy sal ons vyande vertrap.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

five × 3 =