Here, u trou is hemelhoog
1 Vir die koorleier: Op die wysie van
“Moenie verwoes nie”. Van Dawid. ’n
Gedig, met verwysing na die gebeurtenis
toe hy in die grot van Saul af weggevlug
het.
2 Wees my genadig, o God,
wees my genadig!
Ek soek skuiling by U.
In die skaduwee van u vlerke
sal ek skuil
totdat die onheil verby is.
3 Ek roep tot God
die Allerhoogste,
tot God wat gereed is om te help.
4 Uit die hemel antwoord Hy
en red my;
hulle wat my wil vernietig,
sal Hy verneder.
Sela
God sal sy trou
en waarheid stuur.
5 Ek is omring deur leeus,
tussen bloeddorstige mense
wat my wil verskeur.
Hulle tande
is soos spiese en pyle,
hulle tonge
so skerp soos swaarde.
6 O God, mag U geprys word
ver bokant die hemele,
en u heerlikheid besing word
oor die hele aarde.
7 Hulle het vir my voete
’n lokval gestel.
Ek voel terneergedruk.
Hulle het ’n gat
voor my gegrawe,
maar het self daarin geval.
Sela
8 Ek vertrou geheel en al op U.
Op U, o God,
vertrou ek onwrikbaar.
Ek wil lofliedere sing.
9 “Word vroeg wakker!” sê ek.
“Harp en lier, word wakker!”
Ek wil die dagbreek
wakker maak!
10 Voor die volke wil ek U prys,
Here,
tussen die nasies wil ek
u lof besing.
11 Want u trou is hoër
as die hemele,
u waarheid
reik tot in die wolke.
12 Mag U verhewe wees
tot bo die hemele, o God,
en u heerlikheid erken word
oor die hele aarde.