PSALMS 56

U het my trane opgeskryf

1 Vir die koorleier: Op die wysie van “Die

duif in die veraf bome”. Van Dawid. ’n Gedig, met verwysing na die gebeurtenis

toe die Filistyne hom in Gat gevang het.

2 Wees my genadig, o God.

Daar is mense

wat my agtervolg.

Die hele dag

val my vyande my aan.

3 My aanvallers agtervolg my

sonder ophou,

en baie val my aan,

o Allerhoogste.

4 Die dag wanneer ek bang word,

sal ek net op U vertrou.

5 In God, wie se woord ek prys,

in God is my vertroue;

ek sal nie vrees nie.

Wat kan mense aan my doen?

6 Die hele dag verdraai hulle

wat ek sê;

hulle bose gedagtes

is teen my gerig.

7 Hulle span saam

en hou my dop,

en beloer my tree vir tree,

gretig om my dood te maak.

8 In die lig van hulle sondes,

kan hulle enigsins ontsnap?

O God, bring hulle tot ’n val

in u toorn.

9 U het my ellende raakgesien.

U het my trane opgevang.

U het dit opgeskryf

in u boek.

10 Die dag dat ek na U roep om hulp,

val my vyande terug.

Dat God aan my kant is,

weet ek beslis.

11 In God, wie se woord ek prys,

in die Here, wie se woord

ek prys,

12 in God

stel ek my vertroue.

Daarom sal ek

nie bang wees nie!

Wat kan ’n gewone mens

aan my doen?

13 My geloftes aan U

sal ek nakom, o God,

aan U sal ek dankoffers bring.

14 Want U het my

van die dood gered.

U het my voete

van struikeling bewaar

sodat ek saam met God kan loop

en kan lewe in sy lig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

fifteen − two =