PSALMS 55

Vlerke soos ’n duif

1 Vir die koorleier: Met snarespel.

’n Gedig van Dawid.

2 Luister na my gebed,

o God.

Moenie my smeekbede

ignoreer nie!

3 Luister, asseblief,

en antwoord my,

want my moeilikhede

gee my nie rus nie.

Ek is ontsteld

4 oor die dreiging

van my vyande,

oor die druk

van die goddeloses.

Hulle bring ellende oor my,

en kweek vyandskap

in hulle toorn.

5 My hart pyn binne-in my.

Die angs van die dood

kom oor my.

6 Vrees en bewing

oorweldig my.

Ek kan nie ophou bewe nie.

7 Ek het gesê:

“As ek maar vlerke het

soos ’n duif,

dan sal ek wegvlieg

en rus hê!”

8 Ek sou ver weg vlieg,

ek sou in die woestyn

gaan woon.

Sela

9 Ek sou my haas om te ontvlug

van hierdie stormwind

en onweer.

10 Verslind hulle, Here,

en verwar hulle spraak,

want ek sien geweld en stryd

in die stad.

11 Dag en nag

loop hulle rondom

op die mure,

maar die boosheid en onheil

is in die stad!

12 Verwoesting

is aan die orde van die dag,

verdrukking en bedrog

heers in die strate.

13 Dis nie ’n vyand

wat my spot nie –

dit sou ek kon verdra.

Dis nie my vyand

wat teen my grootpraat nie –

ek sou vir hom

kon wegkruip.

14 Maar nou is dit jy,

’n man soos ek,

my goeie vriend en my metgesel.

15 Watter goeie kameraadskap

het ons geniet!

Ons het saam gegaan

na die huis van God

te midde van ’n skare mense!

16 Laat die dood hulle oorval.

Laat die doderyk

hulle lewendig verslind,

want boosheid heers

in hulle huise en harte.

17 Maar ek roep tot God,

en die Here sal my verlos.

18 Saans, soggens en smiddae

pleit ek en kla ek,

en Hy hoor my stem.

19 Hy red my lewe

en bring my veilig

uit die stryd

wat teen my woed,

want baie is vyandig teenoor my.

20 God sal hoor en hulle verneder,

Hy wat van altyd af regeer.

Sela

Want hulle bekeer hulle nie

en dien God nie.

21 My metgesel

het teen sy vriende

gedraai;

hy het sy ooreenkoms

verbreek.

22 Sy woorde is so glad

soos botter,

maar sy hart vol oorlog.

Sy woorde is strelend soos olie,

maar dis soos

’n ontblote swaard!

23 Gee jou kommer

oor aan die Here.

Hy sal vir jou sorg.

Hy sal gelowiges

nie teleurstel nie.

24 Maar U, o God,

sal die bose mense

na die graf van verderf

laat afdaal.

Moordenaars en bedrieërs

sal jonk sterf,

maar ek sal op U vertrou.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

11 + 15 =