Geweldenaars soek my
lewe
1 Vir die koorleier: Met snarespel.
’n Gedig van Dawid, 2 met verwysing na
die gebeurtenis toe die Siffiete gekom het
en vir Saul gesê het: Dawid kruip weg
by ons.
3 O God, red my
deur die mag van u Naam!
Laat aan my reg geskied
deur u krag.
4 O God, luister na my gebed.
Gee aandag aan my smeking.
5 Want vreemdelinge val my aan;
geweldenaars soek my lewe.
Hulle steur hulle nie
aan God nie.
Sela
6 Maar God is my Helper.
Die Here ondersteun my!
7 Laat my vyande
se onheilsplanne
teen hulle draai.
Maak tog ’n einde aan hulle,
want U is getrou.
8 Ek sal ’n vrywillige dankoffer
aan U bring.
Ek sal u Naam loof, Here,
want dit is goed.
9 Uit al my benoudheid
het U my bevry.
Die triomf oor my vyande
kon ek self sien.