PSALMS 50

Net die Here is God

1 ’n Asafpsalm.

Die Here is God, net Hy is God.

Hy praat

en roep die hele aarde op

van waar die son opkom

tot waar dit ondergaan.

2 Vanuit Sion, in volmaakte prag,

skyn God in heerlikheid.

3 Ons God kom nader,

maar nie in stilte nie:

Voor Hom verteer ’n vuur

en rondom Hom

woed ’n storm.

4 Hy roep die hemel

en die aarde

om sy getuies te wees

wanneer Hy regspreek

oor sy volk:

5 “Versamel dié

wat getrou is aan My,

en met offers

’n verbond met My sluit.”

6 Die hemele

maak sy regverdigheid bekend,

want God self is die regter.

Sela

7 “My volk, luister as Ek praat,

Ek sal teen jou getuig, Israel.

Ek is God, jou God!

8 Dis nie weens jou offers

dat Ek jou berispe,

of oor jou brandoffers

wat gedurig voor My is nie.

9 Ek soek geen bul uit jou stal,

of bokke uit jou kraal nie.

10 Want al die diere van die bos

is Myne,

ook die wild op duisende berge.

11 Ek ken elke voël op die berge;

al wat roer in die veld

is Myne.

12 Sou Ek honger wees,

sal Ek jou dit nie sê nie,

want aan My behoort die aarde

en alles daarop.

13 Eet Ek dalk die vleis van bulle,

of drink Ek die bloed

van bokke?

14 Offer dankoffers aan God,

en betaal jou geloftes

aan Hom die Allerhoogste.

15 Roep na My

in die dag van nood.

Ek sal jou verlos

en jy sal My eer.”

16 Maar vir die goddelose

sê God:

“Hoe durf jy

my bepalings voorhou

en jou op my verbond beroep?

17 Want jy verwerp

my vermanings

en verontagsaam my opdragte.

18 Wanneer jy ’n dief sien,

maak jy soos hy;

en met egbrekers

vereenselwig jy jou.

19 Jou mond verkondig kwaad,

en jou tong praat bedrog.

20 Jy sit en beswadder jou broer,

en praat

tot nadeel van jou eie broer.

21 Dit alles het jy gedoen,

maar Ek het stilgebly,

en jy het gedink

Ek het soos jy geword.

Maar nou eis Ek rekenskap

van jou

en sal jou openlik beskuldig.

22 Luister hierna,

julle wat My misken,

anders sal Ek julle

uitmekaarskeur

sonder dat iemand julle verlos.

23 Hy wat ’n dankoffer bring,

eer My.

Aan hom wat my pad volg,

sal Ek my verlossing

bekendmaak.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

fourteen + fifteen =