God sal my loskoop
1 Vir die koorleier: Van die Koragiete.
’n Psalm.
2 Luister hierna, al julle volke!
Gee ag,
al julle bewoners van die wêreld:
3 eenvoudiges
en mense van aansien,
dié wat ryk is
en dié wat arm is!
4 My mond
sal wyse woorde praat,
my gedagtes
sal getuig van insig.
5 Ek sal luister na spreuke
en raaisels oplos
by die speel van die lier.
6 Waarom sal ek bang wees
in tye van nood,
wanneer bose bedrieërs
my omsingel,
7 hulle wat vertrou
op hulle welvaart,
wat spog met hulle rykdom?
8 Geen mens
kan enigsins ’n ander loskoop
deur ’n losprys
aan God te gee nie.
9 Die redding van ’n mens
is te duur.
Niemand kan ooit genoeg betaal
10 sodat hy vir altyd sal lewe
en die dood nie sal sien nie.
11 Almal kan sien:
Wyse mense sterf,
ook die dwaas
en die stommerik,
en laat hulle rykdom agter
vir ander.
12 Hulle graf
is hulle tuiste vir altyd.
Daar sal hulle bly
van geslag tot geslag,
selfs al het hulle die grond
na hulleself vernoem.
13 Die mens in weelde
leef nie vir altyd nie,
maar sterf self
net soos die diere.
14 Dit is die lot van dwase mense,
en dié
wat hulle woorde beaam.
Sela
15 Soos skape
is hulle vir die doderyk bestem,
daar waar die dood
hulle herder sal wees.
Die opregtes
sal oor hulle seëvier
wanneer die dag aanbreek;
hulle sal verrot in die graf
wat vir hulle
’n tuiste sal wees.
16 Maar God
sal my verseker loskoop
uit die mag van die doderyk
en my saam met Hom neem.
Sela
17 Moenie ontsteld word
as die goddelose ryk word
en sy woning
nog mooier maak nie.
18 Hy kan niks
met hom saamneem
wanneer hy sterf nie;
sy besittings
sal hom nie volg nie.
19 Hoewel hy
voorspoedig kan wees,
en hulle hom toejuig
oor sy sukses,
20 sal hy sterf
soos sy voorouers voor hom
wat nie weer die daglig
sal sien nie.
21 Die mens met rykdom
sonder insig
is net soos diere wat vergaan.