Prys die Koning
1 Vir die koorleier: Van die Koragiete.
’n Psalm.
2 Al julle volke, klap julle hande!
Juig voor God
met groot gejubel!
3 Want ontsagwekkend
is die Here,
die Allerhoogste,
die groot Koning wat heers
oor die hele aarde.
4 Hy onderwerp volke aan ons,
maak mense onderhorig
aan ons.
5 Hy het vir ons ’n erfdeel gekies,
die trots van Jakob
wat Hy liefhet.
Sela
6 God gaan op met groot gejuig,
die Here gaan op
terwyl die ramshorings blaas.
7 Prys God, prys Hom;
prys ons Koning, prys Hom!
8 Want God regeer
oor die hele aarde.
Sing vir Hom ’n pryslied!
9 God regeer oor die nasies,
God sit op sy heilige troon.
10 Die heersers van die volke
vergader saam met die volk
van die God van Abraham.
Die konings van die aarde
behoort aan God.
Hy is hoog verhewe.