God is ons toevlug
1 Vir die koorleier: ’n Psalm van die
Koragiete. Op die wysie van “Jong
vroue”. ’n Lied.
2 God is ons toevlug en ons krag;
in nood is Hy gereed
om te help.
3 Daarom sal ons nie bang wees nie,
al bewe die aarde,
al verskuif die berge
diep in die see;
4 al bruis en skuim die waters,
al skud die berge
as die waters styg!
Sela
5 Die strome van die rivier
bring vreugde
in die Godstad,
in die heilige woning
van die Allerhoogste.
6 God self woon daar;
dit sal nie beweeg nie.
As die dag breek,
sal God kom help.
7 Die nasies rumoer
en koninkryke wankel.
God praat,
en die aarde versmelt.
8 Die Here, die Almagtige,
is by ons;
ons skuilplek
is die God van Jakob.
Sela
9 Kom, aanskou die werke
van die Here,
wat verwoesting bring
op die aarde
10 en oorloë beëindig
oor die hele aarde.
Hy verbreek die boog
en vernietig die spies.
Die skilde
verbrand Hy met vuur.
11 “Wees stil en weet Ek is God!
Ek sal vereer word
deur die nasies,
verhewe wees
oor die hele aarde.”
12 Die Here, die Almagtige,
is by ons.
Ons skuilplek
is die God van Jakob.
Sela