PSALMS 45

Die koning en sy bruid

1 Vir die koorleier: Op die wysie van

“Lelies”. Van die Koragiete. ’n Gedig.

’n Lied van die liefde.

2 Mooi dinge roer my hart.

My gedig dra ek voor

aan die koning.

My tong is soos die pen

van ’n vaardige skrywer.

3 U is die aantreklikste

van alle mense.

Minsame woorde

vloei uit u mond.

Daarom het God

u vir altyd geseën.

4 Magtige krygsman,

maak u swaard aan u sy vas!

Glansryk en koninklik is u!

5 Geklee in majesteit,

trek tog uit na die oorwinning.

Ter wille van waarheid,

sagmoedigheid en reg,

laat u regterhand

skrikwekkende dade verrig!

6 U skerp pyle

laat volke voor u val.

Dit deurboor die hart

van u vyand.

7 God vestig u troon vir altyd.

Opregtheid is die septer

waarmee u regeer.

8 U het geregtigheid lief,

en haat die kwaad.

Daarom het God, u God,

u bo u tydgenote

met vreugde-olie gesalf.

9 U klere is gegeur met mirre,

aalwyn en kaneel.

Uit paleise verfraai met ivoor,

maak snaarinstrumente u bly.

10 Voor u is prinsesse

met juwele versier;

regs staan die koningin,

met Ofirgoud versier.

11 Luister, o dogter,

luister wat ek sê.

Vergeet van jou mense

en jou familie.

12 Jou skoonheid

betower die koning;

hy is jou heer, hom moet jy eer.

13 Die dogter van Tirus sal kom

met geskenke,

rykes sal kom

om jou guns te wen.

14 Binne wag die bruid

in prag getooi,

geklee in ’n rok

met goud versier.

15 Sy gaan na die koning

in haar pragtige kleed.

Haar vriendinne,

almal jong meisies,

begelei haar na u toe.

16 Met vreugde en gejuig

word hulle begelei

wanneer hulle ingaan

in die koning se paleis.

17 U seuns sal regeer in die plek

van hulle voorvaders.

U sal hulle heersers maak

oor die hele wêreld.

18 Ek sal u naam bekendmaak

deur die geslagte heen.

Daarom sal volke

u vir altyd prys.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

19 − thirteen =